Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Iewers het ek 'n opmerking gelees wat jou uitdaag om bv die boek Handelinge van vooraf te lees. Ek vermoed ons het dit al almal gedoen, dalk 'n paar keer reeds. Die uitdaging lê daarin dat ons dit hierdie keer lees met die oog op die agtergrond mense. Nie die hoofkarakters soos Paulus en Petrus en Johannes nie. Maar die mense wie se name nie vermeld word nie. En dan kyk jy wat jy by hulle kan leer. Kom ek gee 'n voorbeeld. In Handelinge 2 word die Heilige Gees uitgestort en Petrus preek. Wat kan ek leer by die hoorders? Hulle is diep getref deur wat Petrus sê en hulle vra: "Wat moet ons doen, broers?" (Vers 37). Petrus antwoord. Wat ons na kyk hierdie keer is nie die antwoord nie maar wat doen die mense? Hulle neem Petrus se woorde aan, word as eerste bekeerlinge gedoop (hulle was nie voor dit gedoop in die Naam van die Vader Seun en Heilige Gees nie), kom tot bekering. En toe word dit die fokus van hulle lewe om as gemeente saam te leef. Hulle het met hulle hele hart gefokus op die evangelie en hulle het met hulle hele hart die gesamentlike maaltyd (en dus nagmaal) gebruik en saam gebid. Hulle fokus van hulle lewe het verskuif na die leer van die evangelie (toe nog nie neergeskryf nie) en gebed en saam verkeer as gemeente. As jy dan verder lees dan sien jy hoe dit neerslag gevind het in die help van mekaar. Die uitleef van Jesus op praktiese maniere. Ons kan baie meer gefokusd met die evangelie omgaan. Ons moet baie meer gaan doen wat die Skrif sê. Jou hele lewe word deur Christus verander, nie net jou binneste nie maar jou optredes en gedagtes en woorde word inlyn gebring met Christus. Die woordjie getrou is prominent. Verder moet ons meer fokus op gebed en dan ook gesamentlike gebed. Hier is ook nie halfhartige Christenskap nie. Of net Sondag Christenskap of mooi weer Christenskap nie. Die mense was toegeweid!! Hulle het met hulle alles Christus liefgehad en vir Hom geleef. Jy sien dit in hoe hulle mekaar lief het en versorg. Kyk dan verder in hoofstuk twee en jy sien wat God gedoen het. Handelinge 4. Petrus en Johannes word voor die Joodse Raad gesleep en gedreig. Hulle rapporteer terug. Wat is die gewone mense se reaksie? Vers 24: "Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: ..." Let op die woorde "saam" en "saam tot God gebid". Hulle vra vir vrymoedigheid om te getuig. En hulle kry dit! God gee dit direk na die gebede. Ons is hopeloos teveel individualisties in ons geloof. Daarmee bedoel ek ons lees en bid by die huis alleen in ons binnekamers maar van die saam bid kom daar amper niks. Sou dit nie moontlik wees om daar waar jy is 'n gebedsgroep te begin en saam met mede gelowiges te bid nie.? Waar gaan jy heen met 'n krisis? Sal mense in hul krisis dadelik kan gaan na waar ons saam is of te bid? Gaan lees weer Handelinge. Stuur vir my eposse met jou ontdekkings. Dan kan ek saam voor God jubel oor wat Hy in jou lewe doen. Groete Carlie