Datum:
Opskrif:
Gedagte:
In die Vrypos (NG OVS Se nuusbrief) skryf dr Carin van Schalkwyk as volg: Pinkstersondag Die kerk het ons geword - Handelinge 2:1-13 Eerskomende Sondag herdenk ons die gebeure van Handelinge 2. Dit is die verjaarsdag van die kerk, want dit is die dag waarop die kerk gebore is. Na die uitstorting van die Heilige Gees sou die lewe van gelowiges nooit weer dieselfde wees nie. God het Homself kom tuismaak in die lewe en harte van gewone mense. Ons liggame het tempels van God geword. Elkeen wat die Here dien het ‘n gestuurde na ‘n gebroke en stukkende wêreld geword. Wanneer ons Sondag na die gebou van die gemeente gaan om saam as gelowiges te aanbid, moet ons gaan met die wete en die verstaan dat die gebou nie die kerk is nie, maar dat óns die kerk is en dat óns God die Heilige Gees met ons saamdra elke oomblik van elke dag. Ons lewens behoort dus daarvan te getuig dat ons gestuurdes is en ons behoort daarom ‘n seën te wees vir almal wat ons pad kruis… Dr Carin van Schalkwyk is Tentmakerleraar by NG Philippolis, asook Skriba van die Vrystaat Sinode