Datum:
Opskrif:
Gedagte:
WIE IS GOD REGTIG VIR JOU? Jy kuier saam met vriende rondom die braaivleisvuur en met smaak word vuil grappe vertel. Ook word, met gekruide taal, die een na die ander negatiewe storie oor die politieke situasie in ons land met almal wat wil luister gedeel. Wie is God dán vir jou? Wanneer jy jou SARS-sonderhede invul, en/of ’n saketransaksie moet beklink, en/of oor jou dankoffer aan die Here moet besluit, en/of jou huiswerker se dagloon moet bepaal, en/of jy hoor jy is ernstig siek, wie is God dán vir jou? Talle mense bely dat hulle in God glo, maar wanneer hulle alledaagse leefstyl met hulle belydenis vergelyk word, dan kom jy tot die gevolgtrekking dat hulle glad nie van Hom bewus is nie. Hulle mag in Hom glo, maar hulle bring Hom geensins in berekening nie! Welbekend is die verhaal van Martin Luther toe hy vir dae met ’n diepe neerslagtigheid en depressie geworstel het. Sy vrou het met ’n pikswart gewaad sy studeerkamer betree. Hy het opgekyk en met verbasing na haar swart kleredrag gestaar. Met ’n gedempte stemtoon het hy blykbaar gevra “wie is dood?”. Hierop het sy geantwoord:“Martin Luther se God is dood!” Hy bely dat hy in God glo, maar in sy krisis lééf hy die teendeel: Inderwaarheid is God prakties vir hom dood! Wie is God regtig vir jou in jou alledaagse lewe? Kom ons begin met Deuteronomium 7:7-11. Lees dit deur hier te klik. Oorweeg dit saam met die volgende besprekingsvrae. 1) Gee in jou eie woorde weer: Wie is God régtig vir jou? 2) Wat bely Deuteronomium 7:7-11 van God? 3) Watter gevolgtrekking word aan hierdie belydenis gekoppel? 4) Wat beteken: die Here God is die betroubare God? 5) Wie is God? 6) Wat leer jy van God volgens Psalm 36:6-10, 62:6-9,119:90-91; Spreuke 3:5-6; Klaagliedere 3:23 ken? 7) Hoe kan ’n mens hierdie God ontmoet en “sien”? 8) Wat beteken dit vir jou PRAKTIES dat hierdie getroue God in Jesus jou Vader is? Indien jy jou insigte met Leefnuut s’n wil vergelyk, klik hier. Om die ander Bybeltemas van Leefnuut te lees, klik hier. Oorweeg die volgende selftoets: Stap 1: Formuleer: wie is God vir jou? Stap 2: Herroep jou mees onlangse “slegte/ongure/ervaring/ krisis” Stap 3: Hoe het jy in hierdie situasie opgetree? Stap 4: Was jou optrede volledig in lyn met jou belydenis oor wie God vir jou is? Die Leefnuutvraag: Wanneer jy jou alledaagse leefstyl as maatstaf gebruik: Wie is God regtig vir jou? Die Leefnuutgebed: Heilige Gees, help my dat my alledaagse lewe in lyn is met my belydenis oor wie U vir my is. Laat ek in alles en in elke situasie net weet en beleef wie U werklik is. U is die troue God ook van en in my lewe! Tot U verheerliking. In Jesus naam. Amen Volgende keer gesels ons oor: “'n Toets om te slaag" Okkie Ns. Dalk weet jy van iemand wat by die Afrikaanse Leefnuut baat sal vind. Jy kan ook hierdie epos aan hulle “forward” en dit “CC” Probeer om hul voorname ook deur te gee. Asseblief. Besoek ook www.leefnuut.co.za Hierdie epos kan ook as 'n Post Page gelees word