Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Vanoggend is ek by 1 Johannes 4 vers 7. Gaan lees asb. vanaf vers 7 tot aan die einde van die hoofstuk. God se liefde vir jou is bewese. Hulle sê in kaartspel, dis ook ‘n idioom, sit al jou kaarte op die tafel. Pak alles uit wat jy het. Moet niks terughou nie, laat ons alles sien. Wel God se spreekwoordelike kaarte is alles op die tafel. Oop en bloot kan jy Sy volgende skuif sien. Hy gaan jou liefhê, Hy gaan jou steeds liefhê. Vers 10 en 11 sê “Werklike liefde is dit, nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het om Sy Seun te stuur as versoening van ons sondes. Geliefdes as dit is hoe God Sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.” Let op die woord bewys in vers 11. Let op die kruis ... volgende naweek is Paasnaweek ... let op die kruis. Dis God se liefde sigbaar gemaak vir jou. Dis hoe Hy jou wil red en ek dink dis die mees wonderlikste ding ooit. Dat dit so vertroostend is al raak jy bang, al raak jy benoud, kyk net wie is by jou. God het jou lief. Lukas vertel die verhaal van die verlore Seun, waar Jesus die gelykenis vertel het en as ek die boodskap kan ver-oorvereenvoudig vanoggend: Maak nie saak wat gebeur het nie, kom net huis toe. Maak nie saak wat in jou lewe gebeur het nie, kom net huis toe. Ek kom huis toe deur te bely soos die verlore seun: “Ek is nie werd om U kind genoem te word nie. Ek het teen U gesondig.” Ek kom huis toe deur te glo, deur in God vas te hou en ek ontdek in 1 Johannes 4 vers 15 en 16: “ Wie bely dat dit Hy die Seun van God is. God bly in hom en hy in God.” Hoor jy dit? God bly in jou. En vers 16 “En ons ken die liefde wat God vir ons het en ons glo daarin.” En nou kan ek en jy in die liefde leef soos ons in vers 11 gehoor het. En nou kan ons, as ek die deel verder lees... weet God is liefde. Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. Hierin het die liefde sy doel volkome met ons bereik. Ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld leef ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Is dit nie wonderlike groot woorde nie? En dan vers 18 “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie”. Ons het lief omdat God ons eerste lief gehad het. As iemand sê ek het God lief en hy haat sy broer is hy ‘n leuenaar, want wie sy broer wat hy kan sien nie lief het nie kan onmoontlik nie vir God liefhê nie - wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van God gekry: Wie vir God liefhet moet ook sy broer liefhê.”