Datum:
Opskrif:
Gedagte:
So vind nog ‘n klavier sy pad in my lewe in. Die keer saam met Marisa. En die klanke vul die huis met ‘n eiesoortige kalmte en vrede. ‘n Klavier het ‘n besonderse plek in my lewe. Ek weet vir baie mense is dit net ‘n instrument, of dalk net ‘n pakplek vir ornamente in hul sitkamer. Vir my is klaviere herinneringe. Herinneringe aan my ma se mislukte pogings om my te leer klavier speel. Aan my suster se klavierspel en die vreemde stukke wat sy op haar Universiteitsjaar vakansies kom demonstreer het tot die groot vermaak van haar boeties wat die enkele noot so hier en daar baie snaaks gevind het. Sorrie sus. En ek onthou hoe ek en ‘n laerskoolmaatjie ‘n lied wou skryf. Hy het nog gereken as ons “o solo mio” gereeld insit sal ons ‘n treffer hê, want hy hoor dat enigiets met “o solo mio” in werk vir die groot mense. My arme sus moes die melodie lyn skep. Dankie Ma’am. Nee, daar was ook geen Mario Lanza om ons liedjie in ‘n treffer te omskep. (Of was dit iemand anders?) En dan Joanie wat my huis en lewens gevul het met haar spel. In die tiener jare kon ek presies weet wat in haar gemoed aangaan, dis nou as sy die klavier aangetree het. Jy kon die rondblaai van verveeld hoor; en dan weer die stukke van frustrasies ensovoort. Musiek en die psalmboek loop saam. En daar is soveel liedere, gospel o.a. wat ‘n mens nader hark na God toe. Ek dink aan Paulus wat skryf in Efesiërs 5: 19 dat ons psalms, lofgesange en ander geestelike liedere moet sing; sing met julle hele hart tot eer van die Here. En dan skryf hy verder, “Dank God altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus. Christus is natuurlik ‘n titel. En ek wil jou aanmoedig om te sing tot eer van God. As jy so nootvas is soos ek dalk saggies sing sodat ons nie die bure traumatiseer nie. Maar sing tot eer van die Here en dank God. Want elke dag is so gevul met genade. En ek dink, eintlik moet ons elkeen elke dag ‘n nuwe lied skryf. ‘n Lied tot eer van die Here. Of ‘n psalm dig gevul met dank aan God. So dink ek aan die nuwe lied wat die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge in die hemel sing. Die lied wat ons van lees in Openbaring 5: 9. U is waardig om die boek te neem en die seels daarvan oop te maak om dat U geslag is en met U bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasies. Wat ons hier leef is ‘n kans om nou reeds iets hemels te leef. Begin nou reeds leef soos God dit wil. En sing. En dank God nou reeds.