Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Op die plaas het die reën soms van Hanglip, die waterberge se bekendste piek, se kant, van die teenoorgestelde kant van die vallei waarin ons gewoon het, gekom. Dit was soos hierdie gordyn water wat so sonder donder of blitse aankom plaas toe. Ek was toe nog ‘n kannetjie. En dan het ons, ek en my broer en seker die bure se kinders, van die rivier se kant af huis toe gehardloop en gekyk of ons voor die gordyn van water kan bly wat ampers geruisloos voortspoed. Ander dae was dit donderweer en blitse. Sulke regte onweers wolke wat jou van ver af al dreig en benoud maak. Ek is versigtig om te sê daar is min dinge so mooi soos ‘n goeie donderstorm, want soms draai daardie goeie donderstorms uit op iets verwoestend. Jare later kom ek tot die besef dat ‘n mens iets kan leer van storms af. Die eerste is. Maak nie saak hoe donker die stormwolke en hoe skrikwekkend hulle is nie, as jy in ‘n vliegtuig kan klim en hoop opstyg gaan jy sien die son skyn nog steeds. Al is dit hoe donker, God is steeds daar. Die Lig wat na die wêreld gekom het, is steeds by jou soos Hy in Matteus 28 belowe het. “Ek is by julle tot die voleinding van die wêreld. En nee die storm is nie die voleinding van die wêreld nie. Dit voel soms so. Die tweede ding wat storms ‘n mens leer is ... en dit is goed om dit oor en oor vir jouself te herhaal t.o.v. die ander storms van die lewe. ‘n Wolk kan net so veel reën uitgiet. Dit storm net vir solank dan is die storm klaar. Dan is dit uitgereën of uitgewoed. Vind jou skuiling by die Alfa en die Omega. Maak God jou skuilplek. Daar is geen einde aan God se liefde nie. Sê Psalm 136.