Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Jare terug was daar die cremora advertensie wat sy eie plek in die volksmond ingeneem het. Die man staan voor die oop yskas en soek die cremora wat die koffie moet verroom en hy kry dit nie. En dan vra hy sy vrou en as sy antwoord dan herhaal hy ewe sarkasties “Its not inside, its on top.” ... En dan is dit ook so. Stephen Covey het ‘n gesegde “Inside out.” Enige noemenswaardige verandering wat jy in jou lewe wil inbring moet van hier diep binne jou kom. Bv die dokter kan jou vertel jy moet oefen maar voor jy nie amper dood was met ‘n hartaanval nie gaan jy dalk nie die denkskuif maak om te begin oefen nie. Ek wou amper in lyn met gister se boodskap sê, baie mense weet nie eers hul het ‘n binneste nie. Hulle is doodgewoon net te besig en aan die hardloop om stil te sit en te reflekteer. Ek het ‘n tannie geken wat graag goediglik gesê het ons moet net onthou sy het ook ‘n binneste. Wel vanoggend gesels ons oor ons binneste. Gister het ek dit ‘n tuin genoem. Vandag sal ek maar die Bybelse manier handhaaf: die tempel van God. Daar waar God in jou woon. As Covey dan praat van inside out dan bedoel hy dat die besluit uit diep oorweging moet kom. Nie soos ‘n nuwe jaars voorneme wat net ‘n week of drie gaan hou nie. Maar die besluit wat lewensveranderend is, die besluit wat jy net wil en moet laat werk en dan uitvoer. Soos om aandag aan jou gesondheid te gee na ‘n groot skrik by die dokter. As ek vandag praat van inside out dan is ek by God. Dan praat ek van om vanuit die stiltes by God, te leef en dinge te doen. En dit alles dan te doen tot eer van God, asof vir die Here. Ek dink in terme van om nie uit eie wysheid of oorwegings op te tree maar om by God wat in jou woon, by jou Heer en Meester, die groen lig en die krag te ontvang vir dit wat jy gaan doen. ‘n Lewe geleef vanuit die stiltes met God is ‘n lewe vol vrede en liefde. Teveel keer soek ons bevrediging buite onsself. Is ons soos die advertensie, its not inside its on top. Wel dis ook nie op die yskas nie. Dit is jou. In ‘n stilte by God. As ek terugkyk oor die week dan besef ek ek wil die soort innerlike tuin hê waarin God tuis is, geliefd kan voel. En dit gee God ‘n mens as jy Hom in opregtheid bly soek.