Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek is nog steeds by die reën. En ek dink aan ‘n stok ou liefdes-liedjie. Die een sinnetjie uit die liedjie sê “Listen to the falling rain, know with every drop I love you more and more.” Of so onthou ek dit. Kan ek dit vir God sing? Kan ek, kan ek ... dit vir die Here my God sing? Uit die hart uit sing? En ek wil sê ja, maar Maleagi het my al in my spore gestop. So kom ‘n staaltjie uit my dae in die Ring van Heilbron by my op. Die een dominee vertel van ‘n doop gesprek wat hy gehad het met twee jong mense. En na die gesprek afgehandel is bel hy die tweetjies se ouderling om te sê dis die doopdatum en of die oom in die erediens sal wees. Blykbaar was dit in daardie gemeente die gebruik dat die wyks ouderling die Bybel as geskenk aan die doopouers oorhandig. So bel die dominee dan die ouderling. Net so ‘n oomblik, dominee, laat ek net kyk, nee ek dink dis reg so. Dit lyk nie vir my ons het iets aan daardie Sondag nie. En toe spring my gedagtes na ‘n gesin wat ons vir ete genooi het een Sondag. Die vrou het by die huis gebly om die ete te berei. Dit het my nogals ontstel want is die bring van eer aan die Here ons God nie meer belangrik as die kook van ‘n ete vir mense nie? Is die belangrikste vir ‘n iemand wat lief het dan nie die afspraak met sy / haar geliefde nie? Hoe kyk ‘n mens dan eers of jy iets aan het alvorens jy jou verbind vir ‘n erediens? Dis pligpleging. Dis uiterlik die Here dien maar diep in jou hart is God nie meer eerste nie. En so wil ek nie oordeel nie, maar hierdie keer oordeel ek oor myself. Gebruik die Gees hierdie herinneringe my oor my eie passies. Oor hoe maklik ‘n mens vanoggend se stil wees by God oorslaan want ek moet net gou dit of dat. En ek dog so by myselwers, g’n knaap met muisneste sal dit ooit doen aan ‘n meisie waarop hy dolverlief is nie. Hoekom is ek so met my God? Tog wil ek vir die Here sing, kan ek sing :Lord, listen to the falling rain; know with every drop I love you more and more.” Help my Here dat dit so kan wees.