Datum:
Opskrif:
Gedagte:
“Ek het julle lief, sê die Here.” Maar julle vra: “Hoe het U ons lief?” Dit is ‘n interessante gesprek hierdie. Duidelik sien die Here en Sy volk dinge nie dieselfde nie. En as die Here hulle uitwys as dat hulle Hom met minagting behandel, dan kom die vraag dadelik terug: “Hoe het ons U met minagting behandel?” Die Here antwoord hulle. En as deel van Sy antwoord, haal Hy hulle aan waar hulle sê: Maak God dan tog nou goedgesind dat Hy ons genadig kan wees.” Ek is in Maleagi hoofstuk 1. Dit is vir my duidelik dat die volk dink hulle verhouding met God is goed. Hulle bring offers. Hulle kom al die moets na. Hoekom is God dan so lelik met hulle? God sien egter raak dat hulle afskeep aandag vir Hom het. Hulle offer swak, siek lam diere en bring onrein voedsel op Sy altaar. Later sê die Here hulle beroof Hom boonop. Dit is swaar om te lees “Ek het julle lief” en die reaksie daarop is minagting en disrespek. Geen eerbied vir God. So wonder ek hoe hierdie gesprek vandag in Suid Afrika sou afspeel. Wat sien die Here as Hy na jou en my kyk. Ons voel dalk ons is hierdie diep gelowige mense. Maar is dit wat God sien? Sien God nie dalk hoe ons vanuit ons gemaksug Hom dien soos dit ons pas en wanneer dit ons pas? Ons praat geloof maar ons vergewe nie mekaar nie en ons gee haat vastrap plek in ons lewens. Dit terwyl Jesus dit wat God by ons wil hê saam gevat het in liefde. Jy moet God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand en met al jou krag. En jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Dit het nog nie verander nie. En tog sit ons met ‘n stukkende land en wêreld en ons wonder waar is God dan. Moet ons nog ooit in God glo. Ons maak met mekaar ook so: Ons sien blitsvinnig raak die foute en verkeerde in iemand anders. En nou verbeel ons ons sien leemtes in God ook. Miskien moet ons weer Maleagi lees. En begin vra hoe lyk ons respek vir die Here? En hoe toegeweid is ons regtig aan God? Voor ons dalk op God se liefdesverklaring reageer met: “Hoe het ons U lief?” Gister se reëntjie het vir my persoonlik laat voel God het ons lief. En in my gesondheid het ek beleef, en in die kos op my bord, God het ons lief. Daarom begin ek wonder hoe lief het ek God? Hoe lief werklik?