Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek wil jou vandag niks toewens vir die nuwe jaar nie. Ek bid vandag dat die Here in 2023 met jou sal wees en saam met jou sal beweeg. Mosees het by geleentheid geweier om verder te trek tensy die Here nie self saam met hulle verder gaan nie. dit is waar ek ook is. Sonder die Here moet ons liefs nie verder beweeg nie. Ek gun jou die mooi en diie vrede en die hoop wat vloei uit God se teenwoordigheid. Ek bid dat die Here jou keurig sal versorg. Dat Hy jou sal help om drome waar te maak. God se drome en van joune ook. Ek bid dat Hy met krag in jou sal werk. Ek bid dat jy die keuse elke dag sal maak om dinge op God se manier te doen. Dat jy God se leiding nougeset sal volg en nie jou eie kop of dinge op jou eie manier sal doen nie. God se manier is altyd beter al maak dit nie nou sin nie. Ek bid daarom ook dat God jou hart sal vernywe, jou sal wedergebore en passie vol vir Hom sal maak. Ek bid dat jy nie die Skrif oppervlakkig sal gebruik nie, of net as iets om ander mee by te kom nie. Ook bid ek dat jy nie alles sal glo wat die media opdis of slim mense kwytraak nie maar dat jy by God sal gaan sit daarmee en aanhou bid daaroor tot God vir jou duidelikheid gee. Vinnige antwoorde se waarde is dikwels laag. Ek bid dat jou lewe sal oorloop van liefde, vrede, vreugde. Ek bid dat die vrug van die Heilige Gees volop in jou lewe sal wees. Mag die Here 2023 'n geseënde jaar vir ons laat wees.