Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Josua Ek is Josua. Ek moes op my dag groot skoene vul. God het van my groot en moeilike goed gevra. Dankie dat ek vandag met jou kan deel oor hoe God my deurgedra het. My storie is een oor God en oor gehoorsaamheid aan God. Vir baie mense is gehoorsaamheid nie ‘n mooi woord nie. Mense wil hul eie ding doen op hul eie manier soos dit hulle pas. En dit moet vir hulle werk. Ek het geleer om eerder God se manier te volg. Ek het geskrik die dag wat Moses my vertel het wat God oor hom gesê het. Kyk, ek het geweet God is magtig. Ek het gesien wat God kan doen. Ek was daar toe die water uit die rots geloop het. Ek het die manna beleef in die woestyn. Ek het geweet dat God gehoorsaamheid eis. Dit staan in God se wet: Ek eis gehoorsaamheid van jou. Ons het die mense dit geleer. En dit was vir my belangrik. Ek wou reg voor God leef. Ek wou Hom gehoorsaam. Ek was ook daar die dag toe Moses die rots geslaan het. Hy moes net die rots aangespreek het maar Moses se frustrasie met die volk se gekerm en alewige ontevredenheid was op breekpunt. Toe slaan hy die rots. Jy kan vandag die volk die skuld gee. God sien net Moses, Sy geliefde dienaar en vriend se ongehoorsaamheid aan God se duidelike opdrag. Daar was nie harde woorde of ‘n uittrapsessie nie. Net: Moses, Ek sal jou die beloofde land laat sien maar jy sal nie ‘n voet in daardie land neersit nie. Een keer nie geluister en gedoen soos God gesê het nie. En die droom wat ons meer as 40 jaar mee geleef het, word vir Moses, my mentor, vernietig. Ek was bang vir God. Sou jy nie ook wees nie? Dit is waar die Here vir my gesê het: “Moses, My dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk ...” Die Here het nog meer gesê. Ek het net geweet hierdie taak gaan baie en baie groot uitdagings bring. Ek moes daardie einste volk wat Moses se droom help kelder het. Verstaan my mooi, ek blameer hulle nie, maar hulle het ‘n aandeel gehad. En hulle was dwarstrekkerig. En hulle het aanhoudend gekla oor alles en was skynbaar selde tevrede. Ek moes hulle nou verder lei. My keel het toe getrek. Boonop moes ons die beloofde land intrek en in beslag gaan neem. Ek onthou nog asof dit gister was toe ons 40 jaar van te vore as spioene die land in gegaan het. Ek onthou hoe bang was 10 van die twaalf verspieders. Hoe bang het die volk geraak vir die mense van die land. En nou moes ek die volk laat optrek. God het my fokus heringestel. God het gesê Hy sal my nie in de steek laat nie. Niemand sal teen my bestand wees nie. Ek moet sterk en vasberade wees. En toe kom die belangrikheid van gehoorsaamheid weer deur. Die Here God het gesê: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan.” Die Here was uitdruklik hieroor. Ek moes hou by Sy wetboek. Ek moes dit nie net gehoorsaam nie maar ek moes deurlopend die boek lees en weer lees en daaroor dink. Dag en nag het Hy gesê moet ek oor Sy wetboek dink. Ek moet dit uitvoer. Ek moet doen wat daarin staan. En ek het gedink aan wat met Moses gebeur het oor hy op ‘n keer verslap het. Ek het geweet: Ek sal hierdie wet moet leef! Die Here se belofte was kosbaar. Gehoorsaamheid sal sukses bring. Ek sal voorspoedig kan wees. Dit was wonderlike woorde. Veral toe die Here dit weer bevestig dat Hy orals by my sal wees. Die Here het gesê ek moet nie bang wees nie. Ek het geweet hier kom groot dinge. Moeilike dinge maar die Here sal by my wees. Die Here het vir ons die oorwinnings gegee. Die Here het woord gehou. Ek loof en prys Hom daarvoor. Hy is die Almagtige, die Heilige Ewige God. Daar is niemand soos Hy nie. Dien Hom. Moet nie leef soos jy wil nie. Doen wat God wil. Hy weet beter as ons. En as God jou ‘n ding sê: Doen dit. Doen dit soos God dit wil hê. Dankie dat ek vandag kon getuig van ons grote God. Josua 1