Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Die land brand, en ander hooplose opmerkings! deur Stephan Joubert Dis klink al amper soos ’n refrein… Ek praat van daardie woorde: “Die land brand.” So ook daardie ewe hooplose vraag op mense se lippe: “Waar gaan alles heen?” As ek sulke taal hoor, en dit meestal onder gelowiges (!), dan wonder ek of ons al ooit die Nuwe Testament behoorlik gelees het wat gedurig vertel dat swaarkry, teenstand en vervolging metgeselle van gelowiges aan hierdie kant van die graf is? In die woorde van Paulus in 2 Korintiërs 4 dra ons altyd die dood van Jesus saam met ons. Ons dra eerste ’n kruis en dan eers ’n kroon, nooit andersom nie. Dis asof gelowiges regoor Suid Afrika, en ook elders op die planeet, in een of ander geestelike paniektoestand verval het. Orals slaan mense in geestelike sweet uit. Is ons nie juis in ’n tyd soos hierdie geroep om met ’n vaste vertroue en ’n diep innerlike vrede ons hoop in die lewende God uit te straal nie? Moet ons oog nie slegs op die Here wees, en nie op ons eie omstandighede nie? Moet ons nie ’n slag net ophou om te vertel hoe sleg dit orals gaan nie? Hoekom is swaarkry en slegte omstandighede die enigste hefbome wat maak dat ons onsself nou voor God moet verneder? Moet dit eers droog wees, of sleg gaan in die wêreld voordat ons voor God buig? Jakobus roep ons in hoofstuk 4 van sy brief op om onsself altyd voor die Here te verneder, nie net wanneer dit swaar gaan nie. God sien die nederiges raak, maar Hy verwerp die hoogmoediges. God is altyd naby ons. Dit is ons troos. Daarom kan en moet ons die vure van hooploosheid rondom ons blus! Ekerk.