Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Wees soos ‘n posseël, sê iemand my onlangs. Ek dink toe so by myself: Soos ‘n posseël!? Ja. Wees soos ‘n posseël: klou vas aan jou geloof tot aan die einde van jou reis. My niggie, stuur graag poskaarte as sy op vakansie is. En soos haar ma lank gelede gedoen het, verras sy jou soms met ‘n handgeskrewe brief wat sy vol vertroue in die posstelsel, vir jou per slakke pos gepos het. Deesdae stuur ek ook vir haar ‘n poskaart van tyd tot tyd. En ek begin dink, dit is nie die seël wat vir my belangrik is nie, tensy ek nou seëls versamel het, nee, dit is ook nie die koevert of poskaart of selfs die adres op die koevert of poskaart wat die ding vir my doen nie. En ja, ‘n adres is ‘n bestemming. Dit is die inhoud van die boodskap en die liefde agter dit wat sê jy is in my gedagtes. En ek besef dat elke woord en elke daad en elke asemteug moet inhoud wees van die liefde van God in my wat uitreik na jou. Ek moet nie in terme van resultate dink nie, jy weet soos in watse adres my daad moet hê of bestemming wat bereik moet word nie. Dit gaan oor die inhoud. Die liefde van God. Die inhou sal in God se hande doen wat dit moet doen. Ek moet net brief wees. Ek moet net die inhoud uitleef. En as jy wonder oor afjakke en vervolging omdat jy Christus leef. Wel, Paulus het so mooi geskryf in Filippense 1: 6: “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” Mooi nê! Ek moet net aan Christus vasklou, soos ‘n seël nie aan ‘n poskaart eers kan vasklou nie, en Hy sal my tot by die bestemming bring wat God vir my bepaal het. Ek hoef my nie oor die adres te bekommer nie. Ook nie oor hoe ek daar gaan kom nie. Ek moet net die inhoud leef. Ek moet net dit wat God so mooi in my skryf, vir ander gee om te lees. Wees ‘n brief van God af vir wie ookal jou pad vandag kruis.