Datum:
Opskrif:
Gedagte:
So baie keer reageer mense op mense. Laat ons toe dat ander ons gedrag bepaal. Ons laat as’tware toe dat mense vir ons voorsê hoe ons moet wees. Die maklikste manier wat jy dit kan raaksien in jouself, is as jy dinge begin sê soos: So en so het my so kwaad gemaak … Toe daardie een dit sê toe vat ek vlam … Ek kan nie meer dit of dat van mense vat nie … (die een of ander gedrag) Of as jy voel maar iets is okay want almal doen dit. Dis maar hoe dit is. Ek staan vanoggend hier, in die naam van ons Here, en ek pleit, moenie jou vryheid so maklik weg gee nie. Moenie dat mense jou van “Christus beroof” deur hoe hulle is nie. Maak jou keuse en leef jou keuse. En ons keuse is tog Christus. Ek het in my eie lewe gaan sit en vir myself duidelikheid probeer kry oor hoe was Jesus as mens op aarde. Hoe het Hy opgetree? Wat was Sy gesindheid jeens mense? En ek probeer my besluite en my keuses inlyn kry met Jesus s’n. Dit gaan oor meer as daardie bandjie WWJD. “What Would Jesus Do”. Dit gaan oor God se vernuwende werk in jou, buite jou te laat skyn. Ons praat nie van so hier en daar anders doen nie. Ons praat van soos Jesus word. Romeine 8: 29 “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.” Jesus het ons erfgename van God gemaak. Hy het ons lig gemaak vir die wêreld. Sout vir die aarde. ’n Heilige gebou vir God. God se koninklike priesterdom. So moenie dat mense dit by jou wegsteel of dit verdof in jou nie. Moenie dat mense jou lei nie. Jy is die lig. Wees lig in hulle duisternis. Jy is die sout. Gee smaak en sin aan hulle lewens. Wees jy die preserveer middel van wat mooi kan wees in hulle. Moenie hulle verder verrot deur op hulle vlak rond te beweeg nie. Ek baklei nie. Ek vra mooi. Ek probeer inspireer. Want een ding staan vir my uit in hierdie deel: By die mense is dit dalk so … maar by julle … Die agtergrond vir die deel is nie vir ons snaaks nie. Dis maar net mense besig om mense te wees. Die dissipels het gestry oor wie is die belangrikste. En soos ons kan dink was daar seker baie aansoeke vir die top pos. Ten minste 12. Wat my tref, is dat die Here baie duidelik erken dat dit is hoe dit is tussen mense. By die nasies speel konings baas. Mense in gesagsposisies probeer hulle as weldoeners voordoen. Hulle probeer hulle wil laat geld en probeer kry wat hulle wil hê. Daar word geboelie en gekonkel en afgeknou. En niemand gee ’n stuk om vir die nagevolge vir ander nie. Maar dan baie mooi duidelik sê Jesus “Maar by julle moet dit nie so wees nie ... (vers 26) Dis asof Hy so mooi vra: Ouens, by julle moet dit anders wees. Ons is tog God se kinders. Ons het darem ’n ander styl van dinge doen. Ek het besef toe ek die deel lees dat ‘n ander leefwyse gevra word van jou en my as wat die res van die samelewing leef. En ja, ons moenie verwag ander mense moet soos ons optree of leef nie ... behalwe as hulle aan Jesus behoort. Jesus plaas ons lynreg teenoor wat vir ons gemeenskappe aanvaarbaar mag wees. Daarom is dit iets wat jy moet aanvaar en vrede mee maak. Aanvaar dat hoe jy met God lewe maak jou anders as die mense om jou. By God werk jou ou manier van dinge doen en van mense hanteer nie meer nie.