Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek het gedink dat Jaco Thom se epos wat ek ontvang het, 'n moet lees en 'n moet hieroor nadink artikel is. Ek deel dit graag met jou. Jos 1:7 God waarborg die toekoms – maar wat van ons? Die gedeelte wat ons saam gelees het, speel af op ’n baie besondere tydstip in die volk Israel se lewe. Dit was drie dae voordat hulle die Beloofde Land sou intrek. Agter hulle het ’n pad vol swaarkry gelê: Egipte met sy slawerny, die tog deur die Rooi See, die 40 jaar in die woestyn. En nou, uiteindelik, is hulle op die grens van die Beloofde Land. Hulle staan op die vooraand van die vervulling van die eeue-oue belofte aan die vaders. En tog bespeur ’n mens geen opgewonde afwagting en blydskap in hierdie gedeelte nie. ’n Mens merk eerder ’n gespannenheid, ’n besorgdheid as jy hierdie gedeelte lees. Want die volk het op ’n kruispad gestaan. Hulle het op die punt van ’n totaal nuwe era in hulle lewe gekom. Hulle was amper daar, maar tog nog nie. Daar was nog ’n stuk pad voor. Hulle moes nog oor die Jordaan en hulle moes nog die land in besit neem. Daar kon selfs op hierdie laat stadium nog iets verkeerd loop, iets gebeur dat hulle drome nie bewaarheid word nie. Daarom was die krisis vir Israel nog nie verby nie. Daar was veral 3 sake, so glo ek, wat vir Josua beklem het. Die eerste vraag was: Sou die volk gelowig bly? Daar het immers baie versoekings op hulle pad gewag. Die land is deur heidene bewoon, wat hulle eie afgodsdiens gehad het. Sou die volk aan die Here getrou bly, of sou hulle dalk verlei word om ook afgode te dien? Hulle optrede in die woestyn het hom nie juis gerus gestel nie. Die tweede was die vraag hoe dit sou gaan met die inname van die land. Daar sou tog geveg moes word, en daarna sou daar talle aanpassings moes kom om van ’n rondtrekkende volk oor te skakel na ’n gevestigde nasie, elkeen ment sy eie woonplek en stuk grond. Sou hulle die talle struikelblokke kon oorkom? Om alles te vererger, was Moses, hulle leier vir 40 jaar, dood. Josua het nie opgewasse gevoel vir die geweldige taak wat op sy skouers gerus het nie. Daarom dat die Here hier heel aan die begin van sy leierskap met hom kom praat. As ons nou kyk na wat die Here hier vir Josua sê, is dit duidelik dat daar vir die Here nie 3 probleme was nie, maar net 1. Hy was nie bekommerd oor Josua se leierskap nie, en ook nie oor die inname van die land nie. Dit was immers Hyself wat die land sal inneem en dit vir die volk gee. Daarom verseker God vir Josua hier oor en oor van sy bystand en voorsiening. Luister wat sê God: Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het (5,6). Nee, die gevaar het nie gelê by die vyande nie, en natuurlik ook nie by God nie. Die eintlike gevaar was Israel se kleingeloof en moontlike ontrou. Die Here sou die land vir hulle gee. Hy sou vooruitgaan, maar die volk moes saamkom. Hulle moes glo en vertrou en sterk wees. Sou hulle? Dit was nie die eerste keer wat hulle op die grens van die Beloofde Land gestaan het nie. 40 jaar vroeër het hulle ook daar gestaan, maar toe het hulle geloof hulle in die steek gelaat, en hulle het geweier om die land in te trek, omdat hulle bang was en nie op God vertrou het nie (Num 13, 14). Sou hulle hierdie keer die Here genoeg vertrou dat hulle Hom volg waar Hy lei? Oor die inname van die land en Josua se leierskap sê die Here net: Wees sterk, wees vasberade as Hy met Josua hieroor praat (6). Maar die vraag of die volk aan Hom getrou sal bly, dit is ’n ander storie. Dis hier waar die eintlike probleem lê. Hieroor sê die Here nie net wees sterk, wees vasberade vir Josua nie. Hoor wat sê Hy in vs 7: Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet ... Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (7,9). Baie mense sê hulle is bekommerd oor die toekoms. Hoe gaan die wêreld ná die pandemie daar uitsien? Gaan Suid-Afrika die pyp rook. Mense praat mos daarvan dat ons ’n mislukte staat is. Maar ek dink, as ons na die woorde van die Here hier aan Josua luister, dat ons grootste kommer oor die verkeerde dinge is. Oor die toekoms van die land kan ons die Here vertrou. Ek glo dat Hy sal voorsien, soos wat Hy destyds vir Josua en die Israeliete voorsien het. Ek dink, as die Here vandag met ons sou praat, sou sy groot besorgdheid nie in die eerste plek die politiek of die pandemie wees nie. Hy sal lei. Die groot vraag is egter: Sal ons Hom volg? Ek is so bang dat ons ure worstel en praat oor die vraag: "Wat gaan van ons word?" terwyl die eintlike, allernoodsaaklikste vraag wat ons behoort te kwel, ons nie eintlik pla nie, naamlik: Waar is die geloof van ons mense? As ek so na baie van ons mense kyk, na wat hulle doen, na hoe hulle verdwyn uit die kerk, na hoe hulle hulle kinders grootmaak, na die feitlik ignoreerbare rol wat die Here en die Bybel in hulle persoonlike lewens en gesinslewens en vriendekringe speel, dan is daar een ding wat ons nodig sal hê vir die toekoms, en dit is geloof, die geloofsrypheid om die Here te volg waar Hy lei, die geloofsinsig om te kan onderskei wat werklik belangrik is in die lewe en in die kerk. Daarom herinner die Here Josua (en vir ons!) aan die Bybel: Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees (8). Liewe gemeente, ons kan God vertrou. Ons het oorgenoeg bewyse uit ons eie verlede, maar veral ook uit sy Woord, dat Hy ons nooit aan onsself sal oorlaat nie. Daarom kon ons Kersfees vier – die fees dat God by ons is, Immanuel. Dit belowe Hy aan Josua, en ook aan ons. Ons kan op Hom vertrou. Hy bly altyd getrou. Die vraag is net: Sal óns aan Hóm getrou bly? Ek sluit af met ’n woord van die Here Jesus self in Luk 18:7,8: Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind? Dit is die groot vraag. Amen. Seënwense! Jaco Thom