Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek raak dikwels so half filosofies oor die ou jaar nuwe jaar ding. Volgens menslik indelings, sluit ons die ou jaar vanaand af. En ‘n nuwe jaar begin. Wat van as ek sê elke dag het die potensiaal vir sulke opgewondenheid. Elke nuwe dag is ‘n geskenk van God af. Elke nuwe dag bring God se genade vars na ons. Of soos dit in Klaagliedere staan “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan Sy ontferming nie; dit is elke more nuut …” (Klaagliedere 3:22, 23) Elke oggend begin ‘n nuwe jaar. Maar dalk moet ons nie sover dink nie. Dalk moet ons in die oomblik bly. Nou. Nou is al wat ons het. Hierdie oomblik dra die potensiaal vir een van God se wonderwerke. Hierdie oomblik is die oomblik waar ek dalk God se stem mag hoor. Hierdie oomblik … want die volgende oomblik is nie gewaarborg nie. En tog gee God ons dit ook. Vanoggend wonder ek of ek reg doen om jou ‘n voorspoedige nuwe jaar toe te wens. Is dit nie juis in voorspoed dat baie mense van God vergeet nie? Wat wens ek jou dan toe? Ek bid dat jy elke oomblik van hierdie jaar sal bewus wees van God by jou. Ek bid dat elke dag ‘n kersdag vir jou sal wees waar jy die Kindjie opnuut huisvesting in jou hart gee. Ek bid dat die Here se genade en liefde jou so sal vul dat dit oor die kante van jou lewensbeker sal stroom en ander se lewens opkikker. Ek bid dat jy sal groei in geloof en groei in gehoorsaamheid aan die Here. Dat jy ‘n onverskrokke gehoorsaamheid aan die Here sal ontwikkel. Ek bid dat die Here jou toebou in Sy liefde en dat jy sal liefhê soos Hy ons leer. Dat Sy liefe deur jou en my na ander sal vloei. Ek bid vir goeie gesondheid, gesonde finansies. Vir hoop. Vir vrede en stabiliteit in die land. Vir ‘n afname in misdaad en die einde van korrupsie. Ek bid dat die Here in 2022 vir jou ‘n mooi deel, ‘n ruim deel sal afmeet en jou bederf. Mag 2022 vol vreugde en vrede vir jou en jou gesin wees.