Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Dit is amper Kersfees. Maar jy weet dit reeds. Die kinders kan nie meer wag vir hul geskenke nie. Ek ken 'n sekere jonge dametjie wat vroeer in die week al wou begin persente oopmaak. Dit is seker ook 'n mooi beeld vir geloof. Geloof is om seker te wees dat ons Hemelse Vader die geskenk van genade en baie liefde vir ons gee. En in geloof raak ons soms of so opgewonde of so ongeduldig om God se goeie geskenke in ontvangs te neem. Paulus het in sy briewe aan die gemeentes my geleer om oor elkeen van u te dink as 'n geskenk van God af. Nie net vir my nie maar ook vir die gemeente en vir die Koninkryk. En aan myself ook as 'n geskenk aan ander. Hierdie laaste twee jaar het dit weereens onderstreep. Hierdie gemeente en gemeenskap is 'n gemeenskap van omgee en liefde. Nie perfek nie maar wel meer as bereid om te help en te dien. U liefde vir die Here het keer op keer deurgebreek en dit was wonderlik om te sien, te beleef en van te hoor. Baie dankie vir wie jy is. Dankie Here vir hierdie mense van U. Vanoggend wil ek die Here dankie sê vir hoe Hy ons almal se lewens verryk het met jou lewe. Dikwels op meer maniere as wat jy dalk self bewus van was. Baie dankie. Ek wil ook vir jou en jou gesin 'n baie geseënde Kersfees toewens. Mag die Here Self julle Kersvieringe bywoon (en julle dit so ervaar) en mag Hy julle vul met vreugde en vrede en seën. Mag Hy ons harte opnuut vul met hoop en genade en ons help om altyd te onthou dat Sy liefde vir ons tot die uiterste toe strek. Geseënd Kersfees.