Datum:
Opskrif:
Gedagte:
ek deel 'n stukkie van Jaco Thom. Dit gaan oor Efesiërs 6: 10 - 18 As daar nou een ding is waaroor die Bybel nie doekies omdraai nie, is dat dit nie elke dag maklik is om ’n Christen te wees nie. Op baie plekke en op baie maniere herinner die Bybel ons daaraan dat dit ’n stryd is om die Here te dien. Ek lees onlangs weer in Op 2:13 hoe Antipas beskryf word as ’n getroue getuie, en dan herinner William Barclay ons daaraan dat die woord wat ons met ‘getuie’ vertaal, martus, ‘getuie’ én ‘gemartelde’ beteken. Ons vergeet soms dat om getuie vir die Here te wees, stryd inhou. Daarom is dit dalk goed om vanoggend weer ’n keer na hierdie beeld van die gelowige se wapenrusting te kyk, want, sê Paulus, ons is in ’n worstelstryd, ’n oorlog gewikkel as gelowiges – nie teen ander mense nie, maar teen die listige aanslae van die Bose. En in hierdie stryd is ons weerloos as ons op ons eie probeer om staande te bly. Ons het wapens nodig – die wapens wat God ons gee; wapens om ons te beskerm teen die aanslae: ∙ waarheid as gordel om ons heupe – valsheid en leuens verstrik ’n mens; net die waarheid maak jou vry, sê Jesus in Joh 8:32. Hy sê ook in daardie gesprek die duiwel is die vader van die leuen. ∙ vryspraak deur God as borsharnas – die wete dat jy in regte verhouding met God staan en dat Hy jou vrygespreek het ∙ bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene – as jy nie die evangelie met ander deel nie, is jy soos ’n soldaat wat nie uit sy barakke kom nie ∙ geloof as skild – onwrikbare vertroue op God, en ’n intieme verhouding met Hom ∙ verlossing as helm – houvas van die sonde is gebreek; beskerm jou denke ∙ swaard van die Gees – die Bybel waarmee Gees ons lei (vgl Jesus se optrede toe Satan Hom versoek het in die woestyn) Nouja, hoe lyk hierdie soldaat nou vir julle? Is hy nog so weerloos? Maar is hier nie dalk ’n wapen weg nie? Watter ander wapens het die soldate destyds gehad? ∙ spies; pyl & boog Interessant dat Paulus nie hierdie wapens noem nie. Dalk beteken dit nie juis iets nie, maar dalk tog wel. Een verklaarder sê die Here gee nie vir ons aanvalswapens nie, want Hy verwag nie van ons om die duiwel aan te val nie. Dit sal Hý doen. Hy gee ons wapens om ons mee te verdedig as Satan óns kom aanval. Dan word hier nog een aspek genoem, sonder om ’n spesifieke wapen daarmee te verbind: gebed. Die van julle wat in die weermag was, sal weet dat as jy op wagdiens is, loop jy nie sommer uit jou kamer of tent en gaan staan wag iewers waar jy lus is nie. Wat gebeur eers? ∙ die wagparade By die wagparade moet jy jou eers by die offisier in bevel gaan aanmeld. Daar inspekteer hy jou en jou wapens om seker te maak dat jy gereed is, en daar word die opdragte vir die wag ook uitgedeel. Sonder ’n wagparade sal die soldate nie ordentlik kan wagstaan nie. Dít is wat gebed is: die wagparade, waar ons by ons hemelse Bevelvoerder gaan aanmeld vir diens, en by Hom die instruksies vir die nuwe dag kry. Ons is in ’n oorlog met Satan en sy bose magte gewikkel. Kom ons trek dan elke dag God se wapens aan, en kom ons meld ons elke oggend opnuut vir diens aan in God se wagparade! Amen.