Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek deel 'n dagstukkie van E-kerk. Gaan gerus ook na hulle webblad. Hulle het goeie Bybelvideos. Leef binne-in Jesus se verhaal deur Stephan Joubert "When we submit our lives to what we read in Scripture, we find that we are not being led to see God in our stories but our stories in God’s. God is the larger context and plot in which our stories find themselves.” So skryf Eugene Peterson. Inderdaad! Ons val met ons eie lewens in by God, nooit andersom nie. Ons belyn die stories van ons eie lewe met Sy amptelike verhale in die Bybel. Ons laat onsself oorrompel deur die Here en deur sy lewegewende verhale in die Woord. Ons lees nie maar net die Bybel voor slaaptyd om ons godsdienstige plig na te kom nie. Of om ons te laat goed voel nie. Ons weet die Bybel is ’n lewensgevaarlike boek. In die hande van die Heilige Gees is dit ’n Boek, wat so skerp soos ’n swaard met twee vlymskerp kante is. Dit ruk ons uit ons eie verhaal en maak ons deel van Christus se lewende verhaal. In hierdie verhaal is ons name as begenadigdes en verlostes ingeskryf. In hierdie verhaal leef ons ook enduit agter Jesus aan. Ons weet immers hierdie verhaal het ’n fenomenale einde, ’n ewige een! Jesus is ons Heer vir ewig.