Datum:
Opskrif:
Gedagte:
geleen by eKerk se My lewe. Watter troetelsondes bring skeiding tussen jou en God? deur Helena Smith In die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:12 - 31) lees ons van ‘n jong man, wat nie tevrede met sy huidige omstandighede is nie. Hy vra vir sy erfporsie en gaan dan na ‘n ver land. Die Joodse gehoor, wat na hierdie gelykenis geluister het, het besef dat “ver land” na baie meer verwys as net ‘n ver plek. ‘n Ver land sou beteken dat dit ‘n plek was waar heidense nasies gewoon het. Dit was dus duidelik: hierdie seun het nie net sy rug op sy pa gedraai nie - hy het sy rug op sy geloof gedraai. Die verlore seun het nie net weggestap van sy aardse pa nie, maar ook van sy hemelse Vader. In Jesaja 59 lees ons dat sonde ons skei van God. Sonde is dus die “voertuig” wat ons na die ver land neem. As jy hier lees, is jy dalk ‘n gelowige of ‘n toegewyde Christen. Jy hou gereeld stiltetyd en gaan gereeld kerk toe. Jou lippe praat die regte woorde. Dit kan egter wees dat jy dalk een of ander sonde het, wat jy nog vertroetel of dat sommige areas van jou lewe nog in die ver land is. Dit is daardie areas, waar God nie welkom is nie. Miskien ooreet jy jouself as jy ongelukkig voel. Dalk wil jy nog nie drank heeltemal opgee nie, want daardie salige gevoel wanneer jy saans in jou leunstoel terugsak met ‘n drankie in jou hand, is net heeltemal te lekker. Dalk is jy ‘n koopslaaf, wat dink dat jy slegs beter sal voel as jy iets kan koop. Of dalk kan jy net nie afsien van daardie pornografiese webtuiste, wat jy saans laat besoek nie. Ek lees die volgende aanhaling van Augustinus raak: “Moenie die sondes gering ag waaraan jy miskien reeds gewoond geraak het nie. Want elke sonde word deur gewoonte onbeduidend en vir die mens so asof dit nie daar is nie.” Die feit bly, ons het almal ‘n leemte, gat of verlange in ons, wat ons soms ongedurig en ontevrede laat voel. Soms maak ons dit vol met dinge, wat net in ‘n ver land beskikbaar is. Dinge wat ons nie regtig wil hê God moet weet nie. Jy het seker al, soos ek, agtergekom dat daardie dinge ‘n mens nie regtig gelukkig maak nie. Slegs ‘n sinvolle verhouding met die Here vul daardie gat. Net die Here kan jou regtig volmaak. Miskien is dit tyd om daardie troetelsondes, wat tussen jou en God staan, by die naam te noem en te bely. Dan kan jy weer, soos die verlore seun, weggaan uit die ver land en teruggaan na jou pa se huis toe. Die wonderlikste van alles is dat Hy vir jou met oop arms wag!