Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Roedolf Botha van ekerk het die volgende geskryf. Leesasb en dink daaroor na: Reboot jouself vir 2021! deur Roedolf Botha Het jy al ooit met jou skootrekenaar gesit en werk en ‘n program oopgemaak, wat nie wil laai nie? Trouens, soms vries die hele ding en wil nie verder funksioneer nie. Rekenaartegnici praat daarvan dat alles “hang”! Niemand hoef verder uit te brei oor die vlak van frustrasie, wat onder sulke omstandighede beleef word nie. Wanneer dit gebeur, is daar egter slegs een ding wat jy kan doen en dit is om te reboot, restart en van voor af alles te laai. My belewenis is dat baie mense se lewens tans “hang” as gevolg van Covid-19. Hierdie vreemde tyd het as’t ware ‘n wagkamer geword, waarin mense rondhang totdat alles weer terugkeer na ‘n min-of-meer voorspelbare en ordelike roetine. Mense gaan steeds voort om te werk, te zoom en hulleself met alledaagse verrigtinge besig te hou, maar in hulle gemoedere is dit asof hulle dit nie kan regkry om te reboot nie. Die gevolg is dat vreugde en vrede soms geheel en al ontbreek. Om te kan reboot, moet jy drie dinge verstaan: Eerstens begin ons almal by Ordelike Oriëntasie. Orde is waar ons tuis en veilig voel; daarom is dit die status wat ons voortdurend vir onsself kies. Ons hou van orde in ons wêrelde, want dan is alles voorspelbaar, ordelik en rustig. Daar is nie soseer fout daarmee om soms te smag na orde nie. Die enigste probleem is dat ons nie groei in ons karakter, wanneer alles voorspelbaar en ordelik is nie. Daarom hou die Here daarvan om ‘n volgende stap in ons lewens te gebruik. Ek praat tweedens van Disoriëntasie. Dit gebeur wanneer ons orde versteur word deur ongemaklike dinge, wat gebeur, wat ons nie voorsien het nie. Ek verloor my werk; of ek word gediagnoseer met ‘n seldsame siekte; of iemand na aan my beleef ‘n onaangename verrassing. Corona sou ook ‘n goeie voorbeeld hiervan wees. Hierdie virus het ons denke in die oortreffende trap gedisoriënteer en ons moet dit nie onderskat nie. In die lewe van ou Israel kan ons die Babiloniese ballingskap as voorbeeld neem toe duisende Israeliete as gevangenes na ‘n vreemde land weggevoer is. Hulle het so iets nooit sien kom nie. Hulle was totaal en al ontnugter en gedisoriënteerd. Dink net: Hulle sit onder dwang in vreemde omstandighede en kan daar niks aan doen nie. Baie van hulle naasbestaandes is vermoor en hulle is van hulle lewenswortels vervreem. In hierdie omstandighede was daar sommige valse profete, wat gedink het die oplossing vir hierdie toestand was ‘n terugkeer na hulle ou ordelike oriëntasie. Hulle het begin profeteer dat God hulle gou weer uit Babilonië na veilige Jerusalem sal laat terugkeer. Hierteen het die profeet Jeremia kapsie gemaak. Hy het geweet die oplossing is nie blote terugkeer na hulle vorige ordelike oriëntasies nie, maar dat Israel se heil eerder in ‘n derde stap lê. Hierdie derde stap is Heroriëntasie. Daarom sê die Here vir die Israeliete in ballingskap (Jeremia 29): Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Deur hierdie heroriëntasie maan die Here sy mense om hulleself met passie te verbind tot hierdie nuwe omstandighede. Hulle moet daarmee vrede maak dat hulle nog lank hier in die vreemde gaan verkeer. Dit help nie om rond te hang en te wag vir beter dae nie. Wat nodig is, is om te reboot. Dis nodig om in God se nabyheid met nuwe oë te kyk na die omstandighede, jou denke te vernuwe, moed te skep en vorentoe te beur. Ons kan dit juis doen, omdat Jesus sy eie kruisballingskap oorleef het en elke stap saam met ons beweeg. Maar as gevolg van sy opstanding wag Hy terselfdertyd ook vir ons aan die ander kant.