Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Vanoggend deel ek iets treffends vanuit Ekerk se nuusbriewe: Vind jou eie Kalkutta Agnes Gonxha Bojaxhiu is as tiener na die bediening geroep. Sy het haar opleiding in Ierland en Indië gekry. Eendag nader sy haar owerstes met ‘n godgegewe passie: sy wou ‘n weeshuis bou. Sy het drie pennies tot haar beskikking gehad. Haar owerstes het dit duidelik gestel dat sy nie met drie pennies ‘n weeshuis kon bou nie: “Met drie pennies kan jy niks doen nie.” Agnes glimlag en sê vir hulle: “Ek weet, maar met God en drie pennies kan ek enigiets doen.” Vir 50 jaar werk Agnes onder die armes in Kalkutta. In 1979 wen sy die Nobel-prys vir vrede. Ons ken haar as Moeder Teresa. Hoe het hierdie vrou met so min so baie vermag? Die antwoord is eenvoudig: moet nooit iemand onderskat wat bereid is om ‘n Godgegewe passie na te volg nie. Teen die einde van haar bediening is Moeder Teresa dikwels gevra hoe mense met hulle eie lewens ‘n verskil kan maak. Haar gereelde antwoord was: “Vind jou eie Kalkutta.” Jy het nie rykdom of ‘n magsposisie nodig om ‘n verskil te maak nie. Jy moet net die beste wees wat jy kan wees met wat jy het, waar jy is. As jy getrou in Babilon is, sal God jou seën in Jerusalem. Soos Nehemia, wat die skinker vir die Persiese koning was, moet jy die beste skinker wees, wat jy kan wees. Dit is die nastreef van ‘n passie.