Datum:
Opskrif:
Gedagte:
My waarheid of jou waarheid of dié waarheid? deur Roedolf Botha ‘n Hele paar jaar gelede al het mense begin te kenne gee dat ons in ‘n post-waarheid-samelewing leef. Om vas te stel wat werklik waar is en hoe die algemene realiteit werklik daar uitsien, is eenvoudig nie meer hoog op mense se prioriteitslys nie. Ons kan dit egter ‘n stap verder neem. Ons leef nie bloot in ‘n post-waarheid- nie, maar in ‘n skep-jou eie-waarheid-wêreld. Dis trouens presies wat gebeur, wanneer waarheid as waarde nie meer hoog geag word nie. Dan skep ‘n persoon of groep hulle eie realiteit, aangesien dit hulle opinies en voorveronderstellings beter pas. Dis baie gemakliker as om met ‘n God-gegewe waarheid te leef, wat jou ongemaklik laat. Ons is baie meer individualisties, as wat ons soms self besef. Ons wil nie dat iemand vir ons sê wat waar is nie. Ons (ek) sal self besluit, dankie! Om hierdie rede kry ons vandag so baie fopnuus. Mense skep hulle eie nuus om sensasie te wek. Ongelukkig is die meeste van die skeppers van fopnuus doelbewus kwaadwillig in hulle pogings om mense te mislei. Maar dis nie met almal die geval nie. Baie van ons skep ook daagliks ons eie “waarhede”: Wanneer ons nuus op sosiale media ontvang, wat rym met ons eie oortuigings en dit aanstuur sonder om die integriteit van die nuus na te gaan of te toets. Wanneer ons nuus ontvang oor iemand, van wie ons nie baie hou nie en die nuus versprei. Wanneer ons die Bybel lees en die interpretasie of versies kies, wat ons pas, of wat ons kerkgroep of kleingroep pas. Baie gelowige mense doen dit selfs wanneer hulle sekere dinge vir hulleself wil regverdig. Ons bid vir leiding en dan lees ons die Bybel op ‘n onvolwasse wyse en kom tot gevolgtrekkings wat onakkuraat is. Ons moet egter onthou dat eie waarheid in werklikheid géén waarheid is nie! Dis ‘n leuen. So mislei ons onsself. G’n wonder dat Jeremia vir ons sê (17:9): Die hart is bedriegliker as enigiets anders, dit is ongeneeslik; wie kan dit verstaan? Ons bedrieg onsself so maklik en ons besef dit nie eers nie. Ons is ons eie grootste vyand. Indien Jesus egter vir sy dissipels sê dat Hyself die Waarheid is, dan is waarheid in die eerste plek ‘n Persoon. En dié Persoon gee vir ons die nuus van hoe die wêreld werk. Hy alleen verstaan die lewe. As voorstanders van Hom as Waarheid, kan ons nie toelaat dat ons deelneem aan die misdaad om eie waarhede of valse menings te versprei nie. Dan moet ons ernstig dink voordat ons praat; mooi kyk na ons eie harte; versigtig wees met enige nuus, wat ons ontvang, en met omsigtigheid met inligting omgaan. Daar lê geen voordeel of vryheid daarin om die werklikheid te verdraai totdat dit ons pas nie. Hierdie selfde Jesus sê vir ons dat Hy die enigste Waarheid is en dat dié Waarheid ons sal vry maak!