Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek deel hierdie week die stuk deur Marietjie Joubert van E-kerk Vriendskap deur Marietjie Joubert Lees Eksodus 33:11 Ons leef in vreemde tye. Die Korona virus het ons lewens omgekeer. Ons worstel met verlange na baie dinge. Vir party is dit ‘n ou wyntjie of ‘n koue bier om die braaivleisvuur. Vir ander is dit die verlange na geliefdes, kinders of ouers. Een ding is egter gemeenskaplik. Ons verlang na ons vriende. In Eksodus 33 praat die Here met Moses. Hulle praat van aangesig tot aangesig soos vriende. Moses het nie die Here se gesig gesien nie. God het Moses egter so hoog aangeslaan as Sy kind, dat Hy sê Hy ken Moses by sy naam en hy mag Sy heerlikheid beleef op die berg. Ek dink dit is wat ons na verlang. Hierdie is die heiligste oomblikke van vriendskap ooit beskryf. Ons verlang na die vertrouensverhoudinge van vriendskap, daardie heilige oomblikke waar jy jou hart kan uitstort en woorde soos ‘n tsunamie by jou mond uitval! Ons verlang na die bekende gesigte van ons vriende. Daardie bekendheid wat jy herken aan die huppel in die voetstap nog voordat jy die persoon sien, die agterkant van iemand se kop met die wete dis my vriend of vriendin. Ons verlang na die uitroep van ‘n NAAM, want, “what’s in a name?” soos Shakespeare sê! En dan sê jy: “Alles!” Jou naam is wie jy is. Dit is die bekendheid van jou wese, lyf en jou persoonlikhied aan jou vriende. Dit is waarna ons verlang. Ek verlang na alles wat aan my bekend is van my vriende. Die lekker lag, die kyk wat alles verstaan en verduidelik sonder ‘n woord. Ek verlang na ‘n vol glimlag, met uitgepakte blink tande, sonder die aaklige masker. Ek verlang na die herken! Ek verlang na lang koffiesessies en lekker saam eet aan nuwe watertand resepte. Ek wil soos vriende in Australië vetkoek Vrydag hou en lekker eet dat die sous uitloop op my hande. Kortom… ons verlang na ons vriende. Vriendskap maak ons lewens ryk. Ons is sosiale wesens wat mense om ons nodig het. Hierdie onnatuurlike omstandighede maak dit moeilik. Daarom is dit so vreeslik belangrik dat ons nou, meer as ooit tevore, sal moeite maak met ons vriende. Ons moet mekaar bel en ondersteun. Ons moet mekaar “facetime” of “video call”. Ons moet mekaar sien al is dit op vreemde maniere. Moses was so bevoorreg om God se heerlikheid te beleef. Ons moet ons vriendskap en omgee aan ons vriende nou op ander maniere wys. Ons vriende moet weet hoe baie hulle vir ons beteken. Doen moeite met jou vriende, gee om, laai iets by hulle hek af, stuur blomme en maak jou teenwoordigheid op ander maniere bekend. Bowenal, dra hulle op aan die Here soos Moses. Maak hierdie vreemde tyd ‘n omgeetyd ook vir jou vriende.