Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Wees 'n voorbeeld. Klink eenvoudig. Wag, dalk is dit nie so eenvoudig nie. Het jy 'n pappagaai? Wel voor jy dinge met emosie kwytraak kyk jy eers waar die pappagaai is want jy wil nie sy woordeskat uitbrei nie, of laat ek dit beter stel, jy wil hom nie in ander "tale" laat praat nie. As ek my African Grey iets nuuts wil leer, dan probeer ek dit met emosie sê. Ek skep 'n stukkie drama daar rondom. En gou begin hy dit nadoen. As ek net doodgewoon iets oor en oor sê vat dit langer. Dus les 1, oppas wie luister. (En nee, Magoo vloek nie). Klein kindertjies is natuurlik nog erger. Dit is nie net die woordeskat waarop jy moet let nie, dis ook hoe en wat jy doen en hoe en wat jy nie doen nie. Ek het in 'n boek van Joyce Landorf gelees van 'n man wat vir sy seuns sê: julle weet dat ek my mes aflêk, en julle doen dit ook. Wel julle ma hou nie daarvan nie. So, omdat ek lief is vir haar gaan ek werk daarvan maak om op te hou. Volg my voorbeeld. Ek self maak die motordeur oop vir my vrou, trek die stoel uit vir haar (nee, nie onder haar uit nie); ek laat haar eerste deur die deur stap. Ensovoort. En ek doen dit ook as daar niemand is om ons te sien nie. Nou hoekom doen ek dit? Want ek wil hê die kleinkinders moet iets leer sonder dat ek vir hulle iets sê. Die kleindogters moet die standaard sien en beleef. Ek doen dit ook vir hulle en met vriende saam vir hul vrouens. En die kleinseun (en van die vriende) moet die gedrag aanleer. Daar is 'n ieper rede ook: Ek doen dit want dit laat haar spesiaal voel. Geloof word op dieselfde manier oorgedra. Hou my dop en sien hoe Jesus is. Die kopskuif kom in as jy besef jy is reeds 'n voorbeeld vir jou inders en kleinkinders en vir almal wat jou sien. Jy is of 'n voorbeeld van jouselwers of van Jesus Christus. Of 'n voorbeeld van ingekoop in die wêreld of 'n voorbeeld van lewe in God se koninkryk. Jy is dit ten alle tye. Selfs as jy dink niemand sien jou nie, is en wil ons 'n voorbeeld wees van Jesus en Sy liefde. En ja daar is altyd iewers iemand wat jou sien en ken. So dwaal my gedagtes vanoggend in Johannes 13. Jesus wat nie vir die dissipels voorsê nie maar eerder opstaan en wys hoe dit gedoen word. Nie voortvarend of vermakerig nie maar nederig ostaan en water neem en hulle voete was en afdroog. Jesus wys hulle om ten alle tye te dien. En lief te hê deur die nederige dinge te doen.. Kom ons leef dit! Kom ons wees 'n voorbeeld van dit!