Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek het 'n storie met 'n draai. Die Here het ons bederf via my broer met vliegtuigkaartjies na Moskou, verblyf en 'n ballet in die Kremlin. Vanmiddag het ek my notas gaan opdiep want ek onthou daars iets groters in wat ek net moet vertel. Borscht sop vir aandete met swart brood. Ons hardloop ons bene stomp om betyds by die Kremlin te kom vir die ballet: Don Quichote. Wat n belewenis. 'n Prentjie mooi omgewing. Amper feeverhaal mooi, dis net jy weet dit is die Kremlin, die werkplek van die Ivor the Terrible's, die Catherine's en vandag se politici. Daar is baie mense wat kyk hoe daar gedans word. En dan is daar die wat dans. En natuurlik die wat mense betaal om vir hulle te dans. So wie wil jy wees? Wat is die regte posisie? Wie het die mag: Die een wat laat dans of die een wat met hul dans bekoor? Ek dink nie dis so 'n maklike vinnige antwoord nie. Dit is die regte vraag om te bedink gegewe die lokaliteit. Die Kremlin. Die manne wat laat dans en laat oorlog maak. Mag en heerskappy. Tsaars en konings en die hofdansers en dan die gewone knegte. Vergeet ek skoon van die baie wat nie eers beskore is om die dans te aanskou nie. En ek wonder steeds: waar is die loci van equilibrium. Die punt van innerlike vrede. In die dans? Of in die laat dans? Of buite die hof politiek van die lewe. Die dag na die grootse ballet is ons die mark in, 'n naweekmark van produkte uit die woud vergader en van eie lande af. Die dans van die lewe waar gekibbel word oor prys en varsheid. Heen en weer tot eenstemming bereik is en almal glimlag oor 'n goeie koop en 'n goeie transaksie. En tog is daar ook die wat suur en onbuigbaar oorkom. Summier wal gooi en nie saam wil dans nie. Die mooi van vars produkte, helder bessies en aarbeie, ertjies en kleurvolle blaarslaaie en pepers. Mooi blosende radyse langs groen uie, en perskes wat langs die verskillende skakerings van tamariesoorte kuier. Ons is verras deur kersiesoorte. Besef jy dat wat jy ken nie die volle spektrum van die lewe is nie? Dat'n kersie kan ook liggeel en soet wees en nie net donker rooi as ryp soos jy dit het nie? Ek lief die mark. Dit is warm. En tog weet ek dit is waar die lewe gebeur. Waar oorleef word en gelag word. Ja, ek kyk die swaar mis. Die ure op die lande. Die vroeg opstaan vir markdag. Die besorgdheid om genoeg te verkoop om jou plek te behou. Vir my, vandag, is dit die viering van 'n ander soort ballet. Albei het die handeklap van ander nodig, die danser en die boer. En ek lees in Filippense 2 van Jesus wat albei was: Die Skepper wat 'n heelal laat dans en sing, maar ook die Een wat dien, wat Sy lewe gee in die dans van dood en lewe. En ons ontdekking dat Hy juis in die gee van Sy lewe soveel meer vermag het, soveel meer beheer het. En ek hoor Sy oproep om nie in te koop in mag en die vermoeens om die dans te gebied of te verbied nie. Maar eerder om God se uitnodiging aan te neem en saam met Hom deur ons lewens te mag dans. Vorentoe, agtertoe, kant toe en terug en om in die wals van geloof en lewe. En ek dink aan Sy woord aan Paulus, juis as jy swak is is Ek sterk.