Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek deel graag met jou hierdie deel van Stephan Joubert. Gaan besoek gerus E-kerk op die web. Dit is geen grap om so te sê nie deur Stephan Joubert In Engels praat hulle van ’n “escape clause.” Vir jare lank het ek ook so iets in my agterkop gehad. Dit was my “get out of jail free” kaartjie. O ja, so klink dit: “Die Here ken my hart.” Ek het hierdie woorde graag gebruik wanneer ek misverstaan is. Of wanneer ek verkeerd was. Dan het ek iets gesê soos: “toemaar, julle verstaan my nie, maar gelukkig ken die Here my hart.” Dan was ek in my eie oë dadelik weer terug op die morele hoëgrond. Wel, dit was die geval totdat die Here se Woord my aangespreek het. Toe moes ek afstand doen van hierdie gerieflike ontsnappingsroete. In Jeremia 17:9 moes ek ontdek my eie hart is onbetroubaar. Ook moes ek leer dit is baie gevaarlik om te sê die Here ken my hart. Openbaring 2:23 leer my dat die Here my diepste begeertes en my hart ondersoek en dat dit geen grap is wanneer Hy dit doen nie. Dan is ek eintlik op baie dun ys. Daarom moes ek in Psalm 26:2 leer dat ek gedurig vir opehart-chirurgie by Hom moet aanmeld. Ek moet nederig en opreg vra: “Toets my, Here. Ondersoek my hart en my binneste!” Maar Esegiël 36:26 is soos hemelse manna wanneer ek op die hemelse operasietafel is. Dit is die beste nuus ooit om te hoor dat God daardie einste hart van klip uit my binneste verwyder en dat Hyself dit vervang het met sy soort hart- een wat klop met liefde vir Hom en ander. Slegs wanneer ek in hierdie liefde van die Here leef, kom my (nuwe) hart tot rus in Hom (1 Johannes 3:19). Dan kan die vrede van God, wat hart en verstand te bowe gaan, regtig in my lewe die botoon voer (Filippense 4:7).