Datum:
Opskrif:
Gedagte:
So 'n bietjie agtergrond inligting oor die sg heilige week. Dit is opgestel deur Gerhard Botha. Die herkoms en groei van die groot heilige week Vir ons “geloofsvoorouers” wat in die tyd geleef het toe Jesus gekruisig is, was Paasfees verseker die belangrikste tyd van die jaar. Dit was die eerste groot feesviering van die nuwe kalenderjaar wat by die tempel in Jerusalem gehou is. Die fees, wat ook die pasga (in Hebreeus Pesag) genoem is en die fees van die ongesuurde brode (in Hebreeus massot) – wat aanvanklik eintlik twee afsonderlike vieringe was – is saam gevier (sien Eksodus 12). Die pasga – wat van veeboere afkomstig was – is op die aand van 14 Nisan gevier en die fees van die ongesuurde brode – wat ‘n landboufees was – is vanaf 15 tot 22 Nisan gevier. Die paaslam is aan die begin van die pasga geslag en aan die einde van die fees is ‘n offer met van die eerste opbrengs van die land gebring (Eks 23:16; Levitikus 23:10-14). Vir die Judeërs was Paasfees ‘n fees van verlossing en bevryding. Die Here is gedank vir die verlossing wat Hy destyds met die bevryding van die vroeë Israeliete en die uittog uit Egipte uit bewerk het en het as ‘n fees van hernieude toewyding aan die Here gedien. Die terugkeer van die Israeliete se nageslag uit die ballingskap(pe) is later ook hiermee saam herdenk (Jeremia 23:7-8). Die herhalende offers het vir die Israeliete en Judeërs één doel voor oë gehad: “Soos 'n teken op die hand en 'n merk op die voorkop moet dit julle daaraan herinner dat die Here ons met groot mag uit Egipte bevry het” (Eksodus 13:16). Vroeë volgelinge van Jesus het ‘n verband tussen Paasfees en die kruisiging van Jesus gelê. Jesus word deur Paulus “ons paaslam” (1 Korintiërs 5:7) genoem en Johannes beskou hom as “die lam van God” (Johannes 1:29). In 1 Korintiërs 15:20 word Jesus “die eersteling uit dié wat gesterf het” genoem. Volgens Johannes 12:24 het Jesus gesê: “As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in.” Dit is daarom byna vanselfsprekend dat die christelike Paasfees uit die judese paasfees-vieringe ontwikkel het. Terwyl die judese paasfees op die pasga gefokus was, het die christelike Paasfees se klem na Jesus se opwekking en opstanding uit die dood geskuif. Daarom het die Sondag metteraan die christene se weeklikse vieringsdag geword. Elke Sondag is ‘n Paasviering in die kleine en Paasfees is die hoogtepunt van die christelike jaar. Vandat Paasfees ná die herbou daarvan jaarliks by die tempel gevier is, was daar vóór en tydens die vieringe ‘n samedromming en geskarrel in Jerusalem. Alle manlike persone móés die paasfees bywoon. In die week wat op 14 Nisan en die Paasfees uitloop is die lammers wat gebring is om vir die pasga geslag te word ondersoek om te kyk dat hulle geen gebreke het nie. Gelowiges wat van ver af gekom het om te offer het lammers, duiwe en nóg meer gekoop om as offers te bring. Palmsondag en die Groot Heilige Week Daar het mettertyd velerlei gebruike rondom die inrig van en vieringe in die week voor Paasfees ontstaan. Verskeie bronne hieroor en riglyne vir eietydse gebruik binne vele kerklike tradisies bestaan reeds hiervoor (vergelyk die NG Kerk se Handleiding vir die Erediens). In van die tekste wat in ons Bybel saamgebundel is sien ons dat vieringe rondom Paasfees nie eers onlangs nie, maar van die vroegste tye af vir Jesus se volgelinge belangrik was. Trouens, ons vind alreeds in Markus se evangelie lesings vir ‘n gebruik as voorlesings (en daarmee gepaardgaande gesprekvoering) in samekomste van die Markaanse christelike geloofsgemeenskap. Veral die tekslesings vir die tydperk wat ons tans as die Groot Heilige Week is baie duidelik vir soortgelyke viering deur vroeë christene geskryf. In Markus 1:1-11 lees ons dat Jesus Jerusalem op die Sondag voor die Paasfees op ‘n donkie binnegery het terwyl mense klere en palmtakkies voor hom oopgegooi het terwyl hulle sy lof besing het. Vandaar dan mettertyd die benaming Palmsondag. Wanneer ons dié evangelie mooi bekyk, sien ons dat Markus tekslesings vir elke dag van dié week geskryf het. Die tekslesings vanuit die Markus-evangelie kan soos volg aangedui word: Sondag: 11:1-11 Maandag: 11:12-19 Dinsdag: 11:20-13:37 Woensdag: 14:1-11 Donderdag: 14:12-16 14:17-25 (± 6nm) 14:26-52 (9nm) 14:53-65 (Middernag) 14:66-72 (3vm) Vrydag: 15:1-21 (6-9vm) 15:22-32 (9-12vm) 15:33 (12vm-3nm) 15:34-41 (3-6nm) 15:42-47 (6nm) Saterdag: 15:46-47 Sondag 16:1-8 Matteus (21-28) en Lukas (19 en verder) het hierdie tekste later aangevul en uitgebrei. Johannes (13:1 en verder) se tekste vir dié tydperk is nóg meer uitgebreid en breedvoerig. Vroeë christene het die Groot Week of Heilige Week dus vroeg al in hulle lewe en bediening geïntegreer. ‘n Spaanse non, Egeria, het in ± 380 nC in haar reisverhale in “die heilige land” uitgebreid oor haar belewenisse van die vieringe tydens dié week in Jerusalem vertel. Dit het met verloop van tyd gebruiklik geraak om op die volgende dae die volgende gebeurtenisse te herdenk: Sondag (Palmsondag) Die intog van Jesus in Jerusalem Maandag Die reiniging van die tempel Dinsdag Strydgesprekke in Jerusalem Woensag Jesus rus in Betanië - Hy word gesalf Donderdag Instelling van die Nagmaal, voetwassing, Getsemane Vrydag (Goeie Vrydag) Kruisiging, begrafnis Saterdag (Stil Saterdag) Jesus in die graf Vir ons eie viering van en in Heilige Week kan ons ten minste die betrokke tekste in die evangelies lees. ’n Bietjie agtergrond oor Lydenstyd ... Lydenstyd begin met Aswoensdag (die sewende Woensdag voor Paasfees) en eindig ná die Groot Lydensweek op Stil Saterdag (die dag voor Paasfees). Aanvanklik is die tekste wat oor die tydperk vanaf Jesus se intog in Jerusalem tot met die neerlê van sy liggaam in die graf gaan in dié tyd gelees. Lydenstyd het hierna ontstaan vanuit die gebruik om op die Sabbat voor Paassondag te vas en dan ‘n nagwaak te hou wat tot in die vroeë oggendure van die Sondag geduur het. Die vastyd is mettertyd uitgebrei tot veertig weeksdae plus die ses Sondae voor Pase. Op Sondae is daar nie gevas nie omdat dit in die teken van die vreugde van Paasfees gevier is. Die veertig dae is in die voetspoor van Jesus se veertig dae in die woestyn en die Israeliete se veertig jaar in die woestyn vasgestel. Voornemende dopelinge is gedurende hierdie tydperk voorberei sodat hulle met sonop op die oggend van die paasfees gedoop kon word. Die gebruik is parallel aan die tydperk waartydens voornemende proseliete vir hulle insluiting in die Joodse geloofsgemeenskap voorberei is. Namate die dopelinge al hoe minder geword het, het die persone wat by hulle voorbereiding betrokke was en later die hele kerk, ook aan die boetedoenende praktyke deelgeneem. Die viering van Aswoensdag is sedert die begin van die elfde eeu ‘n algemene gebruik. Tot met die kerkhervorming het dié tyd in die teken van droefheid en rou gestaan. Die vas, boetedoenende gebede en nog asketiese praktyke het al hoe meer toegeneem totdat onder andere Maarten Luther daarteen in opstand gekom het. Omdat ons opnuut van God se genade bewus gemaak is en dááruit leef, kan Lydenstyd ons vandag help om bevry te raak van ‘n godsdiens met onsekerhede, voorwaardelikhede en vrese (Ef 1:14; 1 Joh 4:18). Aangesien Lydenstyd in die suidelike halfrond gewoonlik gedurende die herfs gevier word, kan die verandering in die natuur simbolies verbind word met die stroping van ons eie natuur. Ons hoef nie offers te bring, te vas of boete te doen nie. Óns antwoord op God se vrye guns, is om dankbaar te lewe. Ons pleit nie by God om genade en hoop om dit dalk te ontvang nie, maar sê en leef ’n dankie daarvoor. In Lydenstyd is ons besonder daarvan bewus dat God met ons ’n lewenslange pad stap. Ons is saam met Paulus daarvan oortuig dat God, wat “die goeie werk” in ons begin het, “dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Fil 1:6). Deur Jesus se lydenstyd en -weg in herinnering te bring, fokus ons op God se medelye met ons en die mense rondom ons, asook ons eie broosheid, sterflikheid en toewyding. In sy lyding sien ons dat God by hom bly en hom voortdurend versterk. In en deur sy optrede en woorde sien ons dat God by ons betrokke is en bly. Hy was van God verlate, sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie, aldus die vroeëre nagmaal-formulier van die NG Kerk. God is by mense, nie net wanneer dit voorspoedig gaan nie, maar veral waar mense sukkel, swaarkry en ly. God hou sy verbond in stand, al lyk en voel dit soms nie vir ons so nie (Jes 42:6). Selfs al hou ons onsself nie trou aan die verbond nie, bly God getrou (2 Tim 2:13). In lyding beleef ons die eenheid met Christus en ander lydendes (Fil 3:10-11). Net soos wat Jesus gedoen het, moet ons bereid word om “ons hande vuil te maak” en nie net praat oor lyding en dit wat nodig is om van die wêreld ‘n beter plek te maak nie (Joh 9). Ons moet leer om nie weg te skram van die seer rondom ons nie, maar om die lyding ín ons tyd te help verlig. Ons is tog hier om hoop te bring en seer te genees. Waar daar liefde en deernis is, dáár is God. Dissipelskap en geestelike verdieping is ook in hierdie tyd belangrike aksente en dissiplines soos stilte, gebed, bekering, volharding, studie en gemeenskap met medegelowiges help ons hiermee. Lydenstyd is ‘n baie goeie tyd vir stil word, introspeksie, kontemplasie, meditasie, die verkenning van ’n mens se omgewing en musiekbeluistering. Van die mooiste musiek wat nog gekomponeer is, is Lydenstydmusiek. God se lig skyn helder waar ons na ander se stories en harte lúíster, waar balsem en sagte salf vir wonde en seer herstel bring. Waar ons onvoorwaardelik betrokke is by ander, wen ons vertroue en verwerf ons die voorreg om gehoor te word. Waar ons ons eie seer, nood en vrese met mekaar deel, leer ons ook om mekaar te vertrou en werklik lief te hê: om in woord en daad paradys te bou. Die verloop van Lydenstyd ... “Stilhouplekke” gedurende Lydenstyd is die volgende: Aswoensdag 6 Sondae Alhoewel dit in protestantse kringe nie streng nagevolg word nie, het elkeen van hierdie Sondae met die verloop van tyd elkeen ‘n eie naam op grond van die fokus daarvan ontvang: - Invocavit (“Hy roep (My) aan” n.a.v. Ps 91:15, 16) - Reminiscere (“Gedenk” n.a.v. Ps 25:6) - Oculi (“Oë” n.a.v. Ps 25:15) - Laetare (“Wees bly” n.a.v. Jes 66:10-11) - Judica (“Die reg” n.a.v. Ps 43:1,2a). Palm- / Passiesondag (waarmee die Groot Heilige Week begin) Die Groot Heilige Week, veral: Opdrag-Donderdag Goeie Vrydag en Stil Saterdag. Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paasfees het mettertyd ‘n eenheid gevorm en is saam as die Sacratissium tridium crucifixi, septuli, suscitati (Augustinus se benaming) gevier. Die gebruik om Opdrag-Donderdag (in verskillende kerklike tradisies ook bekend as Heilige, Wit, Groen, en Wit(te) Donderdag én ander benoemings) – waartydens die laaste maaltyd saam met Jesus voor sy kruisiging gehou is – gevier is, behoort egter saam met hierdie vieringe as ‘n eenheid gevier te word. Die benaming “Opdrag-Donderdag” word verkies omdat Jesus op dié aand met die breking van die brood die opdrag “Neem dit ...” (Markus 14:22 en paralelle tekste) aan sy tafelgenote gegee het. Vir baie gereformeerde kerke begin die geloofsgemeenskap se bediening by dié tafel. Op die Saterdag is van vroeg af ‘n nagwaak gehou. Baie christene het geglo dat Jesus se wederkoms tydens dié tydgleuf sou geskied.