Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek sit vanoggend nogsteeds stil by "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is." As ek agtergrond studies insluit dan hoor ek dat my fokus nie resultate moet wees nie. Nie dit moet wees wat die Judaiste (in Paulus se konteks gesproke) ongedaan probeer maak nie. Dit is tog die doring in Paulus se vlees. Ek moet fokus daarop om 'n kanaal te wees waardeur God se genade na ander kan vloei. Paulus gebruik 'n daarom in vers 9 (en weer in vers 10) om te sê dit gaan nie oor hom nie. As jy terug kyk na sy woorde in vers 7 "Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan." Let op die hoogmoedig. Sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie. Dit is hoekom ek sê dit gaan nie oor ons of oor resultate per se nie. Ons rol is om leeg aan onsself te wees, oop te wees vir God om deur ons te kan werk. Die tweede ding wat my diep tref is die "My genade is vir jou genoeg!" Kan ek dit werklik bely waar ek nou in my lewe is? Of maak al ons bekommernisse dat ons nie uit die hart uit kan bely dat God se genade vir ons genoeg is nie. Of, anders bekyk, sou ek tevrede wees as al wat ek oor het sou ek alles verloor, net God se genade is. Wat het Pauus gehad? Hy het hard gewerk om homself te onderhou deur tente te maak. Maar hy het geen huis, besittings gehad nie. Net swaarkry en lyding twv die evangelie. En tog aanvaar hy die woord van God af wat sê, Paulus, My genade vir jou is genoeg. Moet ons nie langer hierby stil staan? 'n Groter besef verkry oor die genade van God in ons lewens? 'n Beter uitsig op die genade in ons lewens? Die derde ding is die weerspreking, of teenstrydigheid. Swak kan nooit sterk wees nie en krag nooit swak. En tog in die koninkryk van God is dit presies hoe dit werk. So wat wil ek eintlik najaag? Is ek okay om geken te word as iemand wat "swak" is? Ek plaas die swak in aanhalingstekens presies omdat swak in God se hande nie die swak is wat mense normaal weg aan dink nie. Want as ek swak is is God sterk in my lewe. Dus, my afeiding, ons moet uit die pad uit kom, weg met al ons grootheidswaan en eie-ek, sodat God meer ruimte het om in ons te werk en wees en Sy krag kan deurbreek na ander. Dalk is die boodskap van hierdie deel ook dat ons onsself moet leeg maak aan onsself, leeg aan al die valshede wat ons oor onsself glo. Dalk moet ons alles afleer wat ons tot hiertoe geleer het, en nuut leer wat God eintlik wil gee. Dalk is die vyand vir Paulus nie die Judaiste van sy tyd nie, en vir ons nie ......... (wat ookal jy hier wil invoeg) nie, maar eerder ons eie sieninge van ons self wat so graag wil kan praat met krag, en on self wil handhaaf en sukkel om te erken dat ons broos en breekbaar is. Ek weet wat ek moet doen: leeg word en oop wees vir God.