Datum:
Opskrif:
Gedagte:
COVID-19 Ek het Sondag nie, soos dit my gebruik is, voor die erediens almal in die kerk met die hand gegroet nie. Ek het verduidelik dat dit ’n voorsorgmaatreël is om die verspreiding van die virus te bekamp. Daar was gemengde reaksie van gemeentelede. Party het dit waardeer, maar heelwat ander het gedink dit is baie snaaks en gevra waarvoor al die drama. Ons het mos nie die virus in die Vrystaat nie! Dieselfde aand kondig pres. Ramaphosa ’n ramptoestand aan, met drastiese maatreëls om die verspreiding van die virus te beveg. Hopelik besef jy teen dié tyd dat ons voor ’n geweldige uitdaging te staan gekom het. COVID-19 is inderdaad nie ’n grap nie. Dit het by ons ook aangekom. Dis nie iets wat ons kan wegwens nie. Ons moet ook nie dink dis sommer net iets wat ander mense en ander lande oorkom nie. Dit is óns probleem, of ons daarvan hou of nie. En ons almal word geraak. Ons sal leefstylaanpassings móét maak, en gou ook, want daardeur kan ons die impak van die virus beperk. Ons moet handel terwyl ons nog tyd het om veranderings te kan maak, en nie wag totdat dit te laat is en die virus dan dikteer wat ons moet doen nie. Ons as gelowiges word geroep om gehoorsaam te wees aan die owerheid (Rom. 13:1-7). Daarom behoort ons ons volle gewig in te gooi by die noodmaatreëls wat die president aangekondig het. Ons word egter ook geroep om draers van die hoop van die evangelie in die wêreld te wees. Daarom pas dit ons om nie deel van die verwarring, vrees en paniek te wees wat op sosiale media versprei word nie. Ons kan kalm bly te midde van die histerie, want as gelowiges glo ons mos dat niks, maar niks ons van die liefde van God kan skei nie (Rom. 8:38-39). Dit beteken egter nie dat ons immuun teen die siekte is, soos party gelowiges verkeerdelik beweer nie. In dié verband moet ons let op wat Jesus vir Satan gesê het toe hy Hom uitgedaag het om van die tempel af te spring, want God sal Hom mos bewaar. Só lieg Satan al van die begin af, selfs vir die Seun van God! Nee, het die Here hom geantwoord, jy mag die Here jou God nie versoek nie (Luk. 4:12). Ons moet dus verantwoordelik optree sonder om paniekerig te word, want ons lewe is in God se hand, kom wat wil. Daar word ongelukkig ook in dié dae onder Christene onsin versprei, soos dat die siekte die straf van God op sondaars is, en dat ons daarom onder die bloed van Jesus immuun is en nie bekommerd hoef te wees nie. Hulle haal dikwels Psalm 91 aan om hulle bravade te regverdig. Dit is gewoon ’n vals evangelie. Hoe moet gelowiges dan optree? Volstruispolitiek gaan ons nêrens bring nie. Ons durf nie nou armpies gevou sit en hoop dit gaan gou verby nie; dit sal waarskynlik nie gou oorgaan nie. Ons sal hard moet dink aan maniere hoe ons die hoop van ons Verlosser by mense kan uitbring, veral by die kwesbares en weerloses in ons samelewing. Praktiese goed soos om bejaardes te help om hulleself te isoleer, ons huiswerkers te help met voorkomende en immuunversterkende middels ensovoorts kan baie doen om die hoop in die gemeenskap te voed. Dit is goed om te lees wat Martin Luther geskryf het toe die Swart Dood 60% van Europa se bevolking uitgewis het: I shall ask God mercifully to protect us. Then I shall fumigate, help purify the air, administer medicine and take it. I shall avoid places and persons where my presence is not needed in order not to become contaminated and thus perchance inflict and pollute others and so cause their death as a result of my negligence. If God should wish to take me, he will surely find me and I have done what he has expected of me and so I am not responsible for either my own death or the death of others. If my neighbour needs me however, I shall not avoid place or person but will go freely as stated above. See this is such a God-fearing faith because it is neither brash nor foolhardy and does not tempt God. Ora et labora. Bid én werk. Dit was die slagspreuk van die kerk oor die eeue. Bid dat die Here ons in dié dae sal bewaar en wysheid gee om die regte ding te doen! En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ’n blywende troos en goeie hoop gegee. (2 Tes 2:16-17) Seënwense! Jaco Thom