Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Hierdie week het twee verskillende eposse op my rekenaar opgeeindig. Albei laat 'n mens diep dink. Wat my getref is hoe die kern van albei op mekaar bou. En dit is veral wat ek vandag met jou wil deel. Die eerste een is vanaf Stephan Joubert en dit handel oor die gee van onsself aan God. Dit gaan nie oor geld nie, dit gaan oor onsself deur Stephan Joubert Vrygewigheid is die wagwoord vir enige Christen. Dit behoort spontaan, aanhoudend en maklik te gebeur. Toe nie! Suinigheid wen. Kerke spaar hulle geld vir reënerige dae. Gelowiges draai hulle sente twee keer om. Mense hou hulle besig met teoretiese vrae soos: “moet ons tiendes gee, of nie?” “Is dit bruto of netto tiendes?” Hierdie is uitgediende vrae. Dit begin by die verkeerde vertrekpunt, naamlik by geld, en nie by Christus en onsself nie. In 2 Korintiërs 8:9 leer Paulus dat Christus wat ryk was om ons onthalwe arm geword het sodat ons in Hom kan ryk wees. Dit gaan oor Jesus wat Homself as offer gegee het wat nou ons rolmodel is wanneer weggee ter sprake is. Vanuit ons verhouding met Hom, gee ons onsself. Ons gee onsself as lewende offers aan die Here aan ander. Ons gee ons tyd, ons talente, ons gawes, ons geld. Dit gaan nie eerstens oor geld nie, maar oor onsself. Ons gee tydig en ontydig. Ons gee sonder voorwaardes. Ons gee met blye harte. Die groot vraag is dus of ons onsself onvoorwaardelik aan Christus se diens en aan ander gee. Dan sal ons geld vanself volg, en ruim ook…! In die volgende epos (van Jaco Thom) sie ons hoe Ananias oor sy vrese moes kom en gaan gehoorsaam. Ananias Vandag staan ons stil by Ananias van Damaskus, van wie ons in Handelinge 9 lees. Handelinge 9 is eintlik die verhaal van Saul (Paulus) se bekering op die Damaskuspad; hoe die Here hom letterlik in sy spore gestuit het sodat hy soos ’n os daar in die pad neergeslaan het. Maar dis nie soseer by Paulus se bekering wat ek wil stilstaan nie. Ek wil hê jy moet jou vir ’n oomblik in Ananias se skoene plaas. Ananias van Damaskus was ’n bekommerde man. Hy het gehoor dat die verskriklike vervolger, Saul van Tarsus, in Damaskus aangekom het met volmag van die Joodse Raad om sy vervolging na die gelowiges daar uit te brei. En nou stuur die Here vir Ananias na hom toe, as ’t ware in die leeu se bek in! Ananias se heel eerste reaksie is: “Nee, Here, dit kan ek nie doen nie. Dié man spel moeilikheid.” Maar die Here laat Hom nie keer nie, en in die volgende toneel sien ons vir Ananias in die straat afstap. Ek dink sy skouers hang en hy skud sy kop, want hy verstaan nie wat aan die gang is nie. Maar hy ken die verhaal van Jona, en hy weet dit sal nie help om te probeer vlug nie. Kan ek vra: loop jy dalk ook al ’n ruk met die wete dat die Here jou na iemand stuur, maar jy het nog nie by dié persoon uitgekom nie? Jy wéét jy moet gaan, maar jy het die een verskoning op die ander? Miskien moet jy dan dít vandag hoor: Die Here kan nie mense met verskonings gebruik nie. Hy kan net gehoorsame mense gebruik. Toe Ananias by die huis in Reguitstraat instap, ontmoet hy daar iemand totaal anders as wat hy hom voorgestel het. Nie ’n monster nie, maar iemand wat deur die Here voorgekeer is. Nie iemand vol van homself nie, maar iemand wat bereid is om in die Here se diens te staan. Hy ontmoet in Saul van Tarsus nie ’n vyand nie, maar ’n broer, iemand wat hy kan en mag aanraak. Daarom sê hy ook (Hand 9:17): “Saul, broer ...” Paulus se bekering kon eers volledig uitgewerk word toe Ananias aan God gehoorsaam was, sy eie vooroordele en voorbehoude gelos het, en hy na Paulus gegaan het. Dalk het die Here jou ook so nodig in iemand anders se lewe. Dalk is daar iemand wat wag dat jy, soos Ananias, sal kom en in die Here se Naam daar teenwoordig sal wees met troos of liefde of hulp of hoop ... Ek wonder hoeveel van God se werk in hierdie wêreld bly onklaar omdat ons nie die deel doen wat God van ons vra nie. Eers as ons daar kom waar ons God gehoorsaam, soos Ananias, al verstaan ons nie alles nie, kan ons deel hê aan God se werk. My gebed is dat dit vandag van jou ook waar sal wees. Seënwense! Jaco Thom Naskrif: As jy van iemand weet vir wie hierdie e-pos iets sal beteken, stuur dit asb. vir hom/haar aan. Plaas asb ook info@bybelkoerant.co.za in die CC-blokkie dat ek dit kan opvolg.e