Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Vanoggend is ek diep getref deur hierdie beriggie. Ek deel dit graag met jou. Die verwysings na die skrywer is aan die end. Maria Hierdie verhaal in Lukas 1, waar God vir Maria die wete kom gee dat Hy haar uitgekies het om die ma van sy Seun te wees, is vir my ’n juweel, want ons sien hier ’n kant van God wat ons maklik kan miskyk. Die twee hoofkarakters in die verhaal is God en Maria – die grote God van hemel en aarde, en Maria, ’n eenvoudige meisiekind uit Nasaret. Sy was op hierdie stadium maar so 12, 13 jaar oud. Die Bybel leer ons dat God van die begin af besluit het om die wêreld van sonde te verlos deur sy Seun na die aarde te stuur. Dié besluit is deel van God se Raadsplan. Hy het dit al in die Tuin van Eden aan Adam en Eva bekend gemaak (Gen 3:15), en deur die eeue het Hy dit telkens op verskillende maniere aan die mense bevestig deur die profete: Hy sal ’n Verlosser stuur om die mensdom te red. Nou kyk, as ék ’n plan moet beraam waarvan my hele toekoms afhang, sal ek seker maak daar is nie skuiwergate en dalks en miskiene nie. Ek sal seker maak niks onvoorsiens kan gebeur wat my plan in die wiele kan ry nie. Nouja, wanneer ons wonderlike, grote God sý reddingsplan vir die wêreld wil implementeer, kom staan Hy voor ’n jong meisie van 13 jaar oud, en wag as ’t ware vir haar toestemming om met sy plan voort te gaan. Hy loop nie sommer bo-oor haar nie; Hy beveel haar nie om saam te werk nie; nee, Hy wag dat sy instem met sy plan! Dís die God wat ek en jy aanbid: ’n God wat nie bo-oor mense loop nie; ’n God wat nie sy wil op mense afdwing nie; ’n God wat nie van my en jou willose marionette maak wat maar moet spring soos Hy die toutjies pluk nie; nee, ons aanbid ’n God wat mense toelaat om te kies, soos wat Hy vir Maria toegelaat het om te kies, gewag het dat sy vir Hom en sy plan kies. Hoekom doen God dit? Omdat Hy magteloos is? Omdat Hy nie in beheer is nie? Nee! Dis omdat Hy ons verstaan, deernis het met ons, en ons respekteer. Daarom werk Hy saggies met mense, oorrompel Hy hulle, nie met mag en krag nie, maar met sy liefde. Só begin die heel mooiste verhaal in die Bybel: by ’n jong meisie wat ja sê vir God se groot plan. Daarom word sy Seun in Betlehem gebore, en sien ons hierdie einste Seun later in Getsemane worstel, waar ook Hý ja moes sê vir hierdie plan, waar Hy Homself aanmeld, vrywillig, om die Lam van God te wees wat die sonde van die wêreld wegneem. God kom staan vandag voor jou ook, want Hy wil jou gebruik in die wêreld. Maria se antwoord ken ons almal: “Ek is tot beskikking van die Here” (Luk 1:38). Wat antwoord jy? Seënwense! Jaco Thom Naskrif: As jy van iemand weet vir wie hierdie e-pos iets sal beteken, stuur dit asb. vir hom/haar aan. Plaas asb ook info@bybelkoerant.co.za in die CC-blokkie dat ek dit kan opvolg.e