Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Die onderwerp waaroor Jesus die meeste gepraat het volgens die evangelies, is die koninkryk van die hemel. Ook genoem die koninkryk van God. Hy het ons boonop geleer om ook te bid dat die koninkryk van God sal kom. Dit laat my dink dat hierdie Hom baie naby aan die hart moes gelê het. En as ek Jesus en Sy belange na aan my hart dra, moet die koninkryk van die hemel ook vir ons belangrik wees. As Jesus Sy aardse bediening afskop, volgens Matteus, dan is dit met "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom." Baie van Sy gelykenisse was vertel om iets van die koninkryk duidelik te maak. 'n Wyle gelede het ek gelees dat iemand sê 'n koninkryk is daar waar dinge gebeur soos die regeerder dit wil hê. Ek sal nog wou invoeg dat die dinge wat die regeerder wil sien gebeur, gebeur daar. En so begin ek wonder hoeveel van wat die Koning wil in ons lewens gebeur. Hoeveel van wat God wil sien gebeur in ons lewens, skep ons die tyd voor om dit te laat gebeur, of net die ruimte te skep sodat God dit in ons en om ons kan laat gebeur. Mense vertel altyd van hul besige lewens. En dit is so. Hulle is erg besig, trouens ons almal is. Ek begin net besef dat ons besig is met goed wat vir ons belangrik is. So as ek nie tyd het vir wat God belangrik is nie, want ek is te besig, dan beteken dit doodgewoon dat dit wat God wil sien gebeur nie vir ons belangrik is genoeg is om tyd voor te maak nie. Eina. Vanoggend kry ek 'n boodskappie van John Matthews van die VCSV. Hy vra wat is ons doel? Hoekom is ons hier? En dan antwoord John met Efes 1:5 en sê God wil in 'n verhouding met ons staan deur Jesus Christus. Dit is wat God wil hê. Dit is wat Hom vreugde verskag. So dink daaraaan: God wil in 'n verhouding met jou staan. Skielik is dit nie meer oor 'n klomp goed wat ek vir God moet doen en dat ek voorkeur moet gee aan wat God wil hê nie. Nou is dit anders. God het my lief. Ek het God lief. Nou is niks teveel gevra as dit kom by Hom vir wie ek lief het. Nou raak ek opgewonde want God maak ook my deel van Sy koninkryk. Nou is dit gedeelde belange wat ek met my hemelse Vader het. Nou klop my hart anders. Die koninkryk van die hemel is 'n tuiskom plek. Noureeds. En eendag sal dit ten volle wees. Kom ons kom tuis.