Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Vyf vars lewensroetes vir 2020 deur Stephan Joubert Wat van ’n paar Bybelse padaanwysers vir 2020: Wees stil. Oefen jouself om te wag op die Here, soos wat Habakuk 2:20 skryf. Bou elke dag ’n stilhouplek in jou lewe in. Wees stil in die Here. Wees stil en rustig in jou siel. Kom tot bedaring. Kom tot rus, tot sielsrus! Wees vrygewig. Onthou Jesus se woorde: “Dit is beter om te gee as om te ontvang (Handelinge 20:35). Laat mense jou ken aan jou oop hart en oop hande. Moenie in 2020 ’n gevangene van suinigheid of gierigheid wees nie. Dit sal jou siel steel. Wees geduldig met jouself en met ander. Onthou, alles wat die moeite werd is in die lewe vat tyd. Laat die Gees van die Here jou in dié proses met groter deernis en sagtheid vul. Waag nuwe dinge. Geloof is om die onbekende saam met die Here in te stap. Doen dit. Leef dapper. Moenie sinies of kleingelowig word nie. Behou jou kinderlike opgewondenheid en nuuskierigheid. Leef elke dag met afwagting. Vergeet jouself. Moenie selfbehep wees nie. Wees nederig. Moenie jouself en ander mense heeltyd te ernstig opvat nie. Leef tot eer van God. Leef tot opbou en seën van ander. En in 'n ander deel deel Stephan die volgende: So lyk my padwysers in 2020 deur Stephan Joubert Welkom by 2020. Mag ek sommer met die deur in die huis val deur ’n stukkie te deel wat ek daagliks skryf in ’n klein kolom in die dagblad Beeld met dieselfde naam as ekerk se goeie nuus. Mag dit ook vanjaar die padwysers vir jou eie lewe wees. In 2020 gaan ek nie my ore uitleen aan verbitterdes, verstoktes en hooploses nie. Hoopvolle mense gaan my mentors wees, daardie klein groepie wat in Romeine 5 se taal teen alle hooploosheid in bly glo. In 2020 gaan ek nie fokus op alles wat is verkeerd in die wêreld of in die kerk nie. Ek gaan kies om dit raak te sien wat is reg op God se front. In 2020 gaan ek nie ander mense afkraak of uitbuit tot my eie voordeel nie. Gedurig gaan ek die Here vra om my hart sag te maak om mense rondom my te dien en te respekteer. In 2020 gaan ek myself nogmaals nie dood vergader of stokflou beplan nie. Dit is 2019 se uitgediende manier van probleme hanteer en lewe probeer blaas in flou sisteme in die kerk en elders. In 2020 gaan oor en oor kies om die Here te dien saam met my familie. Doen dit asseblief ook saam met my in die nuwejaar. Mag dit jou beste jaar ooit wees. Mag 2020 besonders wees vir jou.