Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek het etlike kere hierdie jaar raakgelees in boeke, op Twitter en in eposse dat ons moet tuiskom in God se liefde. Henri Nouwens (as ek reg onthou) se woorde was "you have to submerge yourself into God's love." Ek het gedink dis mooi gesê, maar hoe doen ek dit? So begin mens Bybelverse naslaan oor God se liefde. Psalm 103 en Johannes 3: 16 ev en nog ander dele. Tog bly 'n mens voel dit ontwyk jou steeds. Die kersverhaal het 'n lig laat opgaan: Josef en Maria, elkeen afsonderlik en sekerlik later albei saam, moes absoluut oortuig gewees het dat dit God is wat deur Sy engel met hulle praat. Hulle het dit opgevolg met gehoorsaamheid en tot beskikking van God te wees. So besef ek dat ek moet net glo dit wat die Bybel baie duidelik oor is: God het my/ons lief! En dan moet ek daarvolgens optreë. Ek moet doodgewoon nie meer oor more bekommer nie want God weet wat ek nodig het voor ek nog vra (Matt 6 en Ps 139 lg effe anders gestel). Kan daar 'n groter liefde wees as om so intens belang te stel in iemand? En so kan ek nog dele byvoeg. Die punt is net hoe meer ek leef soos iemand wat weet God het my lief hoe meer gaan ek tuiskom in Sy wonderlike liefde. Hoe meer gaan ek myself vir ander kan gee, hoe meer gaan ek ander vergewe, hoe meer gaan ek myself kan verloën want ek hoef myself nie te handhaaf nie want God het my lief. God sorg vir my. God vergewe my en en en. Hierdie kersfees is dit dan my boodskap aan jou: Kom tuis in God se liefde. Gee jouself as jou geskenk aan ons hemelse Vader. Gaan sit by Hom en laat Hy jou toevou in Sy liefde. Die boodskap van Kersfees is tog immers want so lief het God die wêreld. So lief het God vir ons. So lief het God ook vir my. Vergeet die liggies en die vieringe. En kom tuis in God se groot liefde: Sy Seun vir ons gebore as middelaar en Heer. Geseënde kersfees!.