Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Geseënd is die wyses, want hulle sal min wees! deur Stephan Joubert Toe weier Jesus om sondaars vas te vat. Sy dissipels wou dit doen, maar Jesus het hulle vasgevat en weggestap. Dit is in ’n neutedop die verhaal van Lukas 9:51-56. Die agtergrond: Jesus het met sy reis na Jerusalem begin vir Paasfees. Toe besluit Hy om deur Samaria te stap. Baie Jode het verkies om ander roetes te vat rondom Samaria. Hulle en Samaritane was glad nie goeie vriende nie. In die eerste dorp waar Jesus-hulle moes oornag, het die plaaslike inwoners summier geweier om hulle te ontvang. Die ou strydbyle was steeds skerp. Die reaksie van Johannes en Jakobus: Hulle was briesend. Niemand maak so met Jesus nie, het hulle gedink. Dit was tyd vir vuur. Daar en dan wou hulle vuur uit die hemel afbid op die Samaritane. Waar het hulle aan hierdie idee gekom? Wel, hulle het 2 Konings 1 geken. Eeue gelede het Elia vuur laat val hier in einste Samaria. Dit was toe die koning soldate gestuur het om hom te vang. Presies honderd en twee soldate is dood na Elia se vuurreën. Johannes en Jakobus wou dieselfde doen. Hulle byname was nie verniet Boanerges, “Seuns van die Donder” nie (Markus 3:17). “These are the days of Elijah,” was sekerlik hulle kenwysie. Dit was tyd om op te staan vir die Here. Dit was tyd om die sondaars uit te haal wat met hulle Here spot. Toe weier Jesus. Toe verbied Hy alle vuurwerke. Die rede? Dit is nie meer die dae van Elia nie. Dit is nou die dae van Jesus. Nou is Hyself die lewende water vir die vuur. Daarom dat Hy sy dissipels teregwys vir hulle opstaan-taktieke. Toe sê Jesus hulle moet verder loop. Ek kan net dink hoe ontsteld was Johannes en Jakobus. Hulle wou aksie hê, daardie soort waar spotters en sondaars hardhandig uitgehaal word. Hulle wou die Here se eer verdedig. Toe stap hulle magteloos daar weg. Toe lyk dit of sondaars al weer gewen het. Wie het gewen en verloor daardie dag? Miskien is dit die verkeerde vraag. Jesus dink aan red en verlore gaan, nie aan regsien en terugkry nie. Dit is nou die tyd van lewende water en redding. Nou gaan dit oor liefde vir vriende en vyande. Jesus kon in een oogwink Elia se dae laat herleef het. Maar Hy doen dit nie. Hy is bereid om onreg te vat en weg te stap. Vir Jesus gaan dit oor die uitstel van straf - met die oog op ewige afstel. Dit is nou genadetyd. Die gevolg: Daardie Samaritaanse dorp het nog ’n kans op genade gekry. Dalk het die nuus hulle bereik van hierdie genadestorie. Immers, as dit die Bybel gehaal het, moes dit ook hulle ore bereik het. Dalk het hulle gehoor dat as hulle uitgelewer was in die hande van Jesus se “godsdienstige dissipels” daardie dag, dan was hulle dood. Maar toe kom staan Jesus in die pad. Toe blaas Hy die oordeelsvuur dood in die verwagting dat sy lewende water by Samaritane sal verbyvloei… soos wat dit doen by jou en my. Terloops, dit is steeds die dae van Jesus. Daar is steeds water vir die vuur, Jesus se ewige water. www.ekerk.co.za