Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek het so twee weke gelede 'n kollega besoek (ons is mekaar se konsulente en is medeverantwoordelik vir mekaar) en ons vra mekaar "Waarmee is die Here in jou lewe besig?" Dit is 'n groot vraag want dit wys uit dat die Here in jou lewe besig is. Die vraag is net of jy dit al raak gesien het. Kan jy lees wat die rigting is wat die Here inslaan, of draai die Here na jou toe en sê soos Hy by geleentheid vir Sy dissipels in Markus 6:31 gesê et: "Kom julle alleen saam na 'n stil plek toe en rus 'n bietjie." Dalk is jy in die woestyn want die Here wil jou terugbring na wie Hy jou van die begin af geskep het (dis nou voor ons allerhande goed aangeplak het). 'n Tweede vraag kom vanoggend by my op: Wat wil die Here jou leer? Elkeen van ons is op 'n plek in ons lewens en die bedoeling is nie om daar vasteval en te bly nie. Geen kind wat graag puzzles bou wil net by 'n vier stuk puzzle bly nie. Hulle wil aanbeweeg na 10 stukke en 50 stukke en en en. Ons as ouers is trots daarop. Ons moedig die groei aan. Dink u nie dat die Here nie ook groei in ons wil aanmoedig nie? Dat Hy ons so bietjie aanpor en in situasies paas waar ons moet beweeg, moet groei, meer op Hom vertrou. Derdens besef ek dat met menige leerproses is daar altyd 'n toetsing. ek wil vandag die woord toetsing vermy en eerder gaan met 'n Ouer wat belangstellend dophou en aanmoedig en wil sien die resultaat van ons groei. Ons kan gerus meer terug rapporteer aan die Here oor ons dag. Hom meer vra om "te kom kyk ek het dit reg gekry" of "ek het probeer maar haak hier vas, kom hep my". Daar is 'n ou kerklike tradisie waar jy in die oggend bid dat die Here jou vandag sal gebruik en dat Hy jou moet help om geleenthede vir diens en getuie wees en verskil maak raak te sien. Vanaand bid jy weer en jy veertel die Here van wat jy gesien en gedoen het. Jy vra Hom of dit reg so was en of jy dalk iets anders moes benader het. En jy vra of jy dalk iewers iets of iemand gemis het wat die Here jou voor wou gebruik het. En more herhaal jy die hele proses. 'n Mens kan dit alles verantwoordbaar wees noem. Ons wat antwoorde gee oor ons dag. Ons wat pa staan voor ons hemelse Vader oor wat ons gedoen, geleef gesê het. En dit suiwer omdat ons wil groei in geloof in Hom. En omdat Hy ons lewens besit. So kom ons wees verantwoordbaar teenoof die Here.