Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek deel hierdie week die inleiding tot die Algemene Sinode se Agenda vir die 2019 vergadering. Ek doen dit omdat dit so mooi verwoord wat 'n gemeente en 'n kerk na moet smag en leef. Dr Gustav Claassen skryf: Die sewentiende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk is ‘n vergadering van die tien sinodes van die NG Kerk in Suider-Afrika. As gemeentes, ringe en sinodes het ons met mekaar ooreengekom om op ‘n bepaalde manier saam op weg te wees. By hierdie vergadering kom afgevaardigdes van die tien sinodes bymekaar sodat ons as ‘n vergadering sake te hanteer waarop met mekaar ooreengekom is itv Artikel 43 van die Kerkorde. As vergadering sal ons rondom tafels saamkom in die teenwoordigheid van die Hoof van die kerk en met die vinger op die Bybelteks. Ons is daarop ingestel om sy wil te soek en sy stem te hoor in die konteks waarbinne ons wil kerkwees. Die tema van die sinodesitting gee ‘n aanduiding van waarop ons die fokus wil plaas: “Maak ‘n lewegewende verskil.” Ons wil ‘n kerk wees wat ‘n lewegewende verskil in ons lande maak. Die beeld van water wat lewe gee, spreek ons aan, net soos wat dit in Bybelse tye gedoen het: Ons dink aan Jesus se woorde in Johannes 7:38 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gaan staan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ Dit het Hy van die Gees gesê, wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Jesus nooi mense op die belangrike dag van die loofhuttefees om na Hom te kom. Terwyl die ritueel plaasvind van water wat op die altaar uitgegiet word, nooi Jesus mense uit om hul dors ewig te kom les. Hy is die Een wat nuwe lewe gee. In Johannes is Jesus die een wat in hoofstuk na hoofstuk, van karakter tot karakter, woorde van lewende water laat vloei. Ons volg hom deur die boek en sien hoe hy praat. Mense word deur sy woorde van krag genees, hulle lewens word omvorm. Hy raak aan, en dinge is nooit weer dieselfde nie. Die metafoor van lewegewende water raak ons diep. Net soos die mense van Palestina bly ons ook in ‘n streek waar genoeg reën en water nie vanselfsprekend is nie. Die droogtes van die afgelope tyd gee ons nuwe begrip vir die lewegewende krag van water. Opgaardamme se watervlakke is dikwels desperaat laag en die gewone sneeu op die berge en lente- en somerreëns realiseer nie soos altyd nie. Die fisiese droogtes is maar ‘n deel van ‘n magdom groot vraagstukke en uitdagings in die lande waarin ons geroep is. Hierdie uitdagings lyk soms oorweldigend, maar dit is waarop ons moet fokus. Lewegewende water is juis nodig waar droogte en dors die ergste is. Dit lê in die hart van die evangelie om mense te transformeer van 'n beheptheid met oorlewing en selfgerigtheid na 'n passie om saam met God die wêreld te verander. Die Hoof van die kerk is die enigste bron van lewende water en elkeen wat glo, word ‘n kanaal waardeur lewende water na ander toe vloei. Mag die NG Kerk in die dae van 6-11 Oktober 2019 God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier ervaar in sy saambid, saamdink en saam besluit. Mag die NG Kerk in sy breë en ons dierbare land, met sy broosheid en onsekerheid, die lewegewende verskil ervaar van die saamwees by eMseni Christian Centre.