Datum:
Opskrif:
Gedagte:
As daar een woord is wat in elke gebed aanwesig moet wees as jy bid, dan is dit die woord “dankie.” Om dankie te sê vir die Here is nie net die regte ding om te doen nie; dit is broodnodig. Jy het oorgenoeg redes . . . te veel eintlik. Jou beker is nie net halfpad vol nie; dit loop al weer oor. Of het jy vergeet vandag se brood is weer betyds by jou lewensdeur afgelewer? En dat die Here vandag nogmaals jou naam raaksien wat Hy in sy handpalm gegraveer het soos wat Jesaja 49:16 sê? Heeldag lank kan jy vir die Here hierdie een woord sê: “Dankie!” Nee, jy is nie net dankbaar vir die mooi dinge en vir al die seëninge in jou lewe nie, jy is dankbaar vir God se nabyheid. Jy doen oor en oor hierdie dankbaarheid-roete wanneer jy deur die loop van die dag met die Here praat en oor Hom praat. Jy sê dankie en jy leef dankbaar. – Stephan Joubert